
Heelwat boere is in die middel van mielie-planttyd en vir ander is dit net om die draai. Dit is ook die tyd wanneer dikwels moeilike verskansingsbesluite geneem moet word. Moet ek mielies “vasmaak”? Indien wel, hoeveel nou en wanneer die res?
Fundamenteel lyk die situasie huidig soos volg: Die mees waarskynlike scenario (in hierdie stadium) is dat daar ‘n oorproduksie van wit mielies sal wees, maar steeds ‘n tekort aan geel mielies. Wit- en geelmieliepryse behoort dus naby aan mekaar te bly. Indien die totale mielieproduksie meer as die binnelandse verbruik is, sal pryse na geel uitvoerpariteitsvlakke neig, maar as die totale oes minder as die binnelandse verbruik is, sal die koste van mielies styg na geel invoerpariteitsvlakke.
Waar is hierdie vlakke en waarteen verhandel mielies nou? Geel en wit mielies vir lewering in Julie 2017 verhandel teen R2600 per ton. Uitvoerpariteit vir dieselfde tydperk is op R2100 en invoerpariteit is R2900 per ton. Dit is benaderde pryse en ander aannames kan ander pryse toon. Indien hierdie syfers wel as basis gebruik word, kan pryse nog R500 daal of R300 styg.
Eerste beginsel
Die eerste verskansingsbeginsel in hierdie tydstip is om geen vasteprystipe kontrakte aan te gaan nie. Produsente moet wel minimum pryskontrakte oorweeg. ‘n Minimumpryskontrak is niks anders as prysversekering nie. Indien pryse onder ‘n sekere vlak daal, betaal die versekering die verskil uit, maar as pryse sou styg, is die produsent nie aan ‘n pryskontrak gebind nie en kan hy teen die ho?r prys verkoop.
Die nadeel van prysversekering is die koste daarvan. Die koste van ‘n “put”-opsie op Safex is nou R250/ton. Dit is ‘n minimumprys van R2350. Indien die prys wel tot R2900 styg, is die prys wat die boer kry R2900 minus R250 versekeringskoste. Dit is ‘n prys van R2650. Dit lyk na relatiewe duur versekering met ‘n relatiewe klein moontlike voordeel.
Boere kan egter prysversekering op verskillende vlakke uitneem. ‘n “Put”-opsie met ‘n Safex-prysvlak van R2300 kos net meer as R100 per ton, wat ‘n minimumprysvlak van R2220 (R2300 min R100) waarborg. As pryse tot R2900 sou styg, is die boer se Safexprys R2800 (R2900 min R100). Al die voorafgaande pryse verander daagliks en word as voorbeeld gebruik. Die pryse is voor vervoerdifferensiaal-aftrekkings.
Bewegende teikens
In- en uitvoerpariteitsvlakke soos hierbo genoem is nie konstant nie, maar bewegende teikens, wat besluitneming verder kompliseer. Hierdie vlakke is (hoofsaaklik) ‘n funksie van die internasionale prys en die wisselkoers. Hoe laer die internasionale mielieprys en hoe sterker die wisselkoers, hoe laer word hierdie vlakke, of andersom. Dit lyk asof die wêreldprys van mielies sywaarts sal bly beweeg, maar die groot uitdaging is om die korrekte siening oor die wisselkoers te hê.
Die populêre mening is gewoonlik dat die rand net kan verswak en nie weer sal versterk nie. Hoewel hoogs onwaarskynlik, het die teendeel in die voorafgaande maande gebeur. Die rand het ná Brexit (populêre mening was dat dit nooit sal gebeur nie) met meer as R6 teenoor die Britse pond versterk.
Hoewel opinies baie verskil, is daar ‘n kans dat dieselfde met die dollar kan gebeur, sou Donald Trump volgende week die Amerikaanse presidentsverkiesing wen. R10 (R4 versterking) vir ‘n dollar laat ‘n R2100 uitvoerpariteit na ‘n R1500 uitvoerpariteit verander. ‘n Uitvoerpariteitsprys wat reeds sleg lyk, verander nou in ‘n verliesprys. Net so sal ‘n verswakking van R4 in die wisselkoers ‘n R2900 invoerpariteit verander na ‘n koste van R3500 om geel mielies in te voer.
Kan besluite vereenvoudig
In hierdie warboel van vinnig veranderende inligting kan produsente verskansingsbesluite baie vereenvoudig deur twee basiese re?ls te volg: Die eerste beginsel is om weg te bly van vastepryskontrakte of kontrakte wat opwaartse prysbewegings beperk. Die tweede beginsel is: “Moenie niks doen wat verskansing betref nie”. Sit ‘n minimumprys in plek, al is dit op ‘n vlak wat dalk nou baie laag lyk, maar bekostigbaar is. Dit verhoed paniekbesluite (wat gewoonlik verkeerd is) as pryse skielik ernstig begin daal.
? Die inligting wat hierbo verskaf word is om die moontlike effek van geen verskansing of verskillende maniere van verskansing te illustreer. BVG, Landbou.com of enige van hulle werknemers aanvaar geen verantwoordelikheid vir enige verliese (of winste) wat as gevolg van die gebruik van die inligting gemaak word nie.
* Johann Straus is 'n navorser by BVG Securities.