Die mielieprys kan oor ’n paar maande die hoogte inskiet tot meer as R3000 per ton as ’n voorspelde tekort Suid- Afrika gaan noop om mielies in te voer en die rand swak bly teenoor die Amerikaanse dollar.
Mnr. Willem Engelbrecht, hoofbestuurder van die saadmaatskappy Pioneer Hi-Bred RSA, het op ’n boeredag van sy maatskappy in Middelburg (Mpumalanga) gesê die Nasionale Oesskattingskomitee se syfers is weer verkeerd.
Die vorige oestyd het die komitee die mielie-oes se grootte vir lank te hoog geskat en dit later verlaag, maar sy skatting is steeds 1 miljoen ton te hoog. Die oeste in die oostelike asook die westelike produksiegebiede is laer as wat hulle dink.
Sowat 1 miljoen ton van die hoeveelheid mielies wat hulle dink nog gelewer moet word, bestaan nie. Mielies is reeds uitgevoer na onder meer Mexiko. Suid-Afrika sal waarskynlik teen Maart of April aanstaande jaar mielies ten duurste moet begin invoer, wat die plaaslike prys kan opstoot.
Skerp styging moontlik
As dit in die planttyd baie reën, sal boere minder mielies kan plant. As daar dan boonop in Januarie en Februarie weer ’n midsomerdroogte is, sal dit die oes benadeel en die mielieprys sal skerp styg, sê Engelbrecht.
Die huidige hoë mielieprys kan baie boere nietemin laat besluit om in die komende planttyd minder sojabone en sonneblomme en meer mielies te plant.
Boere gaan vorentoe meer geel mielies as wit mielies verbou omdat die vraag na geel mielies styg en dié na wit mielies daal namate mense se besteebare inkomste styg en hulle eerder stapelvoedsel, soos vleis, hoender, aartappels, rys en brood, kan bekostig.
Mnr. Steve Elmore, die maatskappy se hooflandbou-ekonoom in Amerika, het mense gekritiseer wat altyd voorspel dat die wêreld gevaar loop om ’n mielietekort te ondervind. Die stellings dat daar gereeld ’n krimpende pyplynvoorraad oor is, is altyd misleidend en dikwels bloot onwaar.
30 September 2011