Die mielieprys sit steeds die bullopie voort wat begin het nadat droogte die afgelope Amerikaanse oes ’n strawwe knou toegedien het.
Dit het die wêreldmielievoorraad tot ’n laagtepunt die afgelope 15 jaar laat val. Naelbytery oor die laat aanvang van Suid-Afrika se somerreën (op sommige plekke eers kort voor Kersfees) het die plaaslike mieliemark in die laaste weke van verlede jaar ekstra woema gegee.
Die witmielie-kontrak op Safex vir lewering in Januarie was teen middel verlede week ’n volle 52% duurder (R2 735 per ton) as ’n jaar gelede. Die soortgelyke geelmielie- kontrak was 49% duurder (R2 745 per ton).
Die Julie-kontrakte het onderskeidelik 29% (wit mielies) en 28% (geel mielies) sterker as ’n jaar gelede verhandel. Intussen is alle aanduidings dat mieliepryse selfs verder behoort te verstewig.
Droogte
Veral droogtegeteisterde aanplantings in Suid-Amerika het pryse teen verlede week aanhou boontoe dryf. Reënbuie in Argentinië was moontlik te laat om oesskade daar te voorkom, sê mnr. Barrett Schoeman, markekonoom van Graan SA.
Alle aanduidings is steeds dat Suid-Afrika se mielie-oes van die vorige seisoen al vóór 30 April, die einde van die heersende bemarkingsjaar, opgebruik gaan wees.
Dit is grootliks vanweë sterk uitvoer. Die totale uitvoer van mielies sedert 1 Mei verlede jaar het reeds die kerf van 2 miljoen ton verbygesteek, terwyl amper ’n derde van die bemarkingsjaar nog voorlê.
16 Januarie 2012