
Boere wat op voerinsette in hul boerdery staatmaak, sal na goedkoper voeropsies moet soek, want die mielieprys sal na verwagting vorentoe skerp styg.
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, het op Landbouweekblad se ekspo by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees voorspel die mielieprys kan teen volgende jaar tot $300 tot $340 per ton styg.
Kleiner Chinese oordragvlak
Sy vooruitskouingsmodel sluit nie die neiging van ’n kleiner Chinese oordragvlak in nie. Die Chinese oordragvoorraad het altyd sowat 140 miljoen ton per jaar beloop, maar dit het nou tot 30 miljoen ton per jaar gedaal. Dit kan pryse selfs verder die hoogte laat inskiet.
“China gaan een van die dae begin mielies koop en dan sal die prys styg,” sê Janovsky. “Boere wat voer koop, kan hulle maar regmaak dat die prys tot sowat R2 400 per ton gaan klim. As jy dus wil voer, moet jy dit of self maak of goedkoop in die hande kry,” het hy gesê.
Janovsky het boere dit op die hart gedruk om meer produktief in hul boerdery te wees. Suid-Afrikaanse boere word deur ’n kosteknyptang van sowat 3% in die gesig gestaar.
Kosteknyptang
“Die knyptang gaan my na tegnologie en produktiwiteit dwing. Dit is die enigste ding wat ons in die landbou gaan laat oorleef. Die kosteknyptang sê jou produksie, en nie jou wins nie, moet meer as 3% per jaar groei anders gaan jy nêrens kom nie.
"Jy as boer kan niks aan die prys doen nie, want vraagverskuiwing is die enigste ding wat jou in ’n ander prysvlak sit, dus sal jy meer moet produseer.”
Verhoogde produksie gaan hand aan hand met skaalekonomie.
Janovsky verwag dat die waarde van grond sowat 10% tot 12% per jaar gaan groei.
“As jy wil groei moet jy nóú jou buurman uitkoop anders gaan jy oor drie jaar 30% meer betaal.”
2 April 2012