
Die JSE (Safex) se Julie 2017 witmieliekontrak het tydens verhandeling op 24 Maart 2017 tot 'n kontrak-laagtepunt van R1 713 gedaal.
Produsente wat wit mielies by silo’s met 'n vervoerdifferensiaal van meer as R213 lewer, sal 'n produsenteprys van minder as R1500 per ton realiseer. Dit sluit silo’s soos Ficksburg, Bergville, Betlehem, Ottosdal, Wesselsbron, Delareyville, Bultfontein, Naboomspruit, Reitz en Morgenzon in.
Die grootste gedeelte van vanjaar se mielie-oes het, op grond van bogenoemde kontrak dus ‘n produsenteprys van minder as R1 500. Bemarking- en transportkoste sonder enige basispremie sal die meerderheid silo’s se produsente realisasie tot onder R1 500 laat daal.
Oorsaak van lae pryse?Wat is die oorsaak van hierdie droewige prysvlakke? Suid-Afrika se graanprodusente moet met ander produsente in die wêreld meeding. Die eerste gewilde rede is gevolglik dat wanneer 'n oorskot mielies verwag word, mielies teen uitvoerpariteitsvlakke verhandel.
Wanneer daar 'n tekort is, is mieliepryse normaalweg gelyk aan geelmielie-invoerpariteit. Pryse sou dan, afhangende van watter parameters gebruik word, ongeveer R400 per ton hoër wees. Dit is steeds te laag, want invoerpariteitspryse word gewoonlik deur droogtes, met ander woorde min tonne per hektaar, veroorsaak. Vanjaar se surplus produksie is bydraend, maar nie die groot oorsaak van verliespryse nie.
'n Sterk wisselkoers is 'n volgende faktor wat mieliepryse nadelig kan beïnvloed. Die rand-dollar-wisselkoers was 'n jaar terug R15,50 teenoor R12,50 nou. Die ingevoerde komponent van insette is teen R3 swakker aangekoop as waarteen die mielies nou uitgevoer word. As die situasie andersom was, was pryse natuurlik veel beter, maar slegs oor die korttermyn.
Verhoogde insetkosteIn die daaropvolgende jaar sou laasjaar se “swak” wisselkoers nou 'n “normale” wisselkoers wees, ingehaal deur verhoogde insetkoste. Die wisselkoers kan oor die korttermyn voor- of nadelig vir pryse wees, maar het nie 'n groot langtermyn invloed op die winsgewendheid van graanproduksie nie.
Die grootste oorsaak van plaaslike swak pryse is die internasionale prys van mielies, soos in die oranje grafiek hieronder aangetoon word. Die vry-aan-boord (vab) prys van Amerikaanse geel mielies kan hier gesien word. Vry aan boord is 'n internasionale term: Dit is die prys wat deur die verkoper (uitvoerder) gekwoteer word vir 'n produk wat klaar op 'n skip gelaai is.
Pryse het vanaf 2012 skerp begin daal. Hoewel die verbruik van mielies wêreldwyd toeneem, het die produksie van mielies nóg meer toegeneem. Die gevolg is dat die eindvoorraad in die grys grafiek hieronder (beginvoorraad en produksie minus die verbruik vir 'n spesifieke jaar) elke jaar toeneem. Eindvoorraad as persentasie van verbruik was in 2006 so laag as 6%, maar het daarna tot die huidige vlakke van 16% toegeneem.
Koringproduksie in Suid-Afrika het nie 'n surplus- of uitvoerpariteitsprys-probleem nie. Groot hoeveelhede koring moet elke jaar ingevoer word. Selfs al geld invoerpariteitspryse, is die internasionale prys só laag dat winsgewende koringproduksie plaaslik nie moontlik is sonder tariefbeskerming nie. Die vry aan boord prys van VSA “hard red winter” koring kan in die blou grafiek gesien word. Dieselfde dalende neiging as mielies is duidelik waarneembaar.
Die oorsaak van die daling is grootliks ook dieselfde as by mielies – die jaarlikse aanbod van koring in die wêreld is groter as die vraag daarna. Volgens die groen grafiek was die oordragvoorraad van koring in 2016 ongeveer 250 miljoen ton. Dit is 'n 34 persent eindvoorraad tot verbruik verhouding, nog meer beroerd as dié van mielies. Dit is veral die lande van die voormalige Sowjet-unie wat meer en meer koring produseer.
Huidige landboubeleid dikteer dat plaaslike koring en mielies met die res van die wêreld se koring en mielies moet meeding. Die beskerming wat die huidige koringtarief bied is debatteerbaar. Die wisselkoers en plaaslike produksievlakke (in die geval van mielies) is tot 'n mindere mate bydraend tot nie-winsgewende prysvlakke, maar die groot oorsaak is die lae internasionale prys. Die dilemma hiervan is dat graanprodusente in Suid-Afrika self niks daaraan kan doen nie.
* Geskryf deur Johann Strauss, navorser by BVG Commodities