
Die rekorddroogte het 2016 vir talle Suid-Afrikaanse mielieboere een van die moeilikste jare in menseheugenis gemaak.
Selfs al plant Suid-Afrikaanse boere 27% meer mielies, soos einde verlede jaar beoog is, gaan die land in 2017-’18 steeds groot hoeveelhede van dié stapelvoedsel vir mens en dier in Suider-Afrika moet invoer. Dít beteken Suid-Afrikaanse pryse behoort naby die hoër invoerpariteitsvlak te bly.
Normaalweg beweeg Safex-pryse binne die band tussen in- en uitvoerpariteit – in ’n netto uitvoerjaar nader aan die laer uitvoerpariteit, en andersom in ’n netto invoerjaar. Die afgelope jaar het die droogte oeste en die skrapse voorraad só geknou dat veral die witmielieprys in die grootste deel van die jaar selfs bo invoerpariteit was. Die geelmielieprys was meestal op invoerpariteit en het ook ’n keer of wat hierdie vlak, wat tradisioneel as ’n soort plafon beskou word, verbygesteek.
Deur die loop van die jaar het pryse taamlik teruggesak vanaf die uitskietervlakke wat in Januarie verlede jaar aangeteken is. Wat die komende oes betref, is die groot vraag nou tot waar die pryse kan daal.
Oesskattingskomitee sy gebruiklike opname
In Oktober, toe die Nasionale Oesskattingskomitee sy gebruiklike opname gedoen het oor voornemens om somergraan te plant, het boere aangedui dat 2015-’16 se skamele aanplantings van 1,95 miljoen ha kan herstel tot 2,46 miljoen ha in die huidige produksiejaar.
Teen einde verlede jaar was die Internasionale Graanraad van mening dat Suid-Afrika se volgende oes 12,9 miljoen ton kan beloop, wat 72% groter as verlede jaar s’n sal wees.
Mnr. Wessel Lemmer, landbou-ekonoom van Absa-Agribesigheid, sê egter selfs al word 2,46 miljoen hektaar beplant, kan dit steeds onvoldoende wees om Suid-Afrika en die res van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie van genoeg veevoer te voorsien.
Nie genoeg vir veevoer
“Produsente het aangedui dat die aanplantings van wit mielies genoeg gaan wees vir menslike verbruik, maar dit gaan heel waarskynlik nie genoeg wees om in die vraag na veevoer te voorsien nie,” skryf hy in die bank se weeklikse Agri Trends-nuusbrief.
“Suid-Afrika sal dalk steeds tot 1,2 miljoen ton geel mielies moet invoer en 520 000 ton van die witmielie-oes moet gebruik om in die veevoervraag te voorsien.
“Kopers sal ’n premieprys moet betaal, hoewel laer as in die afgelope produksiejaar, om te verseker dat hulle genoeg mielies in voorraad het om wit meel te maal,” meen Lemmer.
Produksiekrediet
Nog ’n faktor is die beperkte beskikbaarheid van produksiekrediet. Ná twee tot drie droë jare is talle somersaaiboere se finansiële reserwes sodanig uitgeput dat hulle nie vir produksiekrediet in aanmerking kom nie. Dit kan die beoogde aanplantings inkort, wat pryse in die huidige produksiejaar sal stut.
Prysverhoudings tussen die verskillende somergewasse kan ook ’n groot rol speel. Dr. Dirk Strydom, landbou-ekonoom van Graan SA, het begin Desember gesê almal sien uit na dié produksiejaar. Dit is egter belangrik om te besef dat die jaar sy eie eise gaan stel, skryf hy in Graan SA se tydskrif, SA Graan.
Prysbewegings is vanjaar ’n groot risikofaktor. Terwyl die weer buite ’n boer se beheer is, kan hy sy prysrisiko in ’n groot mate bestuur.
Verskansing op Safex
Daarvoor is verskillende stukke “gereedskap” beskikbaar. Dit sluit in die korrekte gebruik van opsie- en termynkontrakte vir verskansing op Safex, sowel as diversifikasie na ander gewasse om risiko te versprei. Graan SA se ontledings wys dat oliesade vanjaar gerus vir hierdie doel oorweeg kan word.
“Soos die pryse van verskeie kommoditeite vir lewering in Maart, Mei en Julie 2017 tans (November 2016) verhandel, lyk die verhoudings gunstig vir die plant van oliesade.”
Dirk sê as dit ’n goeie tot normale jaar is wat reënval en produksie betref, gaan die afwaartse prysrisiko aansienlik hoër in die mieliemark as in die oliesademark wees.
Vraag na oliesade
Internasionaal is daar ’n groot vraag na oliesade, veral na sojabone. Selfs al plaas ’n rekord-soja-oes in Amerika pryse onder druk, behoort die wêreldvraag na soja steeds besonder hoog te wees. Dit behoort pryse, ook in Suid-Afrika, te steun. Daar word ook ’n groot vraag na sonneblomolie voorspel.
Die prysverhoudings tussen die verskillende gewasse is ’n goeie riglyn vir ’n boer om te besluit wanneer dit vir hom die moeite werd is om van die een gewas na ’n ander oor te skakel. Dié berekenings, waarin gemiddelde produksiekoste en opbrengste ook in ag geneem word, wys volgens Graan SA se statistieke dat die prys van sojabone minstens 1,83 keer hoër as dié van mielies op die oostelike Hoëveld en in die Oos-Vrystaat moet wees om met dié oliesaad gelyk te speel.
In Noordwes moet die prys van sonneblomsaad minstens 1,61 keer dié van mielies wees en die prys van sojabone 2,02 keer dié van mielies.