Die Departement van Energie se taakspan vir bio-brandstof gaan die gebruik van mielies vir alternatiewe energie weer bespreek, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Mnr. David Ross, die party se woordvoerder vir energie, sê ‘n vergadering het Dinsdag (12 Oktober) plaasgevind tussen dié party, die Departement van Energie en Graan SA om die situasie rondom die surplus mielies in die land te bespreek.
Die DA het die vergadering gereël om die moontlikheid van die opheffing van die moratorium op die gebruik van mielies vir bio-brandstof te bespreek. ‘n Surplus van sowat vier miljoen ton mielies is die afgelope jaar in die land geproduseer.
Ross meen dat beter kommunikasie tussen die Departement van Energie en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye oor die onderwerp moet plaasvind. “Die taakspan het ‘n beduidende rol om te speel met die koördinering van die departemente en ander rolspelers.”
Graan SA kan kernrol speel
Die taakspan vergader op 17 November om die moratorium en huidige situasie te bespreek. “Ons hoop dat Graan SA in die komende proses ‘n kernrol sal speel, aangesien hy baie kundig is op dié gebied,” sê Ross.
Volgens Ross is die organisasie van plan om teen volgende week ‘n volledige verslag oor mielies vir die gebruik van bio-brandstof, asook die huidige situasie, aan die taakspan te verskaf. “Hulle het tydens die vergadering uitgewys dat voedselsekerheid tans nie ‘n probleem is met die surplus mielies wat geproduseer is nie.”
Ross sê opvolggesprekke sal plaasvind, en hy is van plan om die situasie en beleid voortdurend met die portefeuljekomitee van energie te bespreek.
13 Oktober 2010