
Tot dusver lyk dit asof 2017 as ’n rekordjaar vir mielies in die geskiedenisboeke opgeskryf gaan word. Behalwe vir ’n paar droë plekke in Mpumalanga, laat aanplantings en kolle met windskade lyk die somersaaigebied se mielies besonder goed.
Die nadeel van uitstekende toestande beteken dat die beginsel van voorraad teenoor aanvraag die mielieprys onder geweldige druk plaas. Op die oomblik lyk dit of daar ’n surplus van mielies gaan wees in die komende seisoen. Dié surplus kan die prys van mielies laat daal tot op uitvoerpariteitpryse. Die prys is tans so laag dat meeste produsente gaan sukkel om ’n wins te maak teen daardie prys.
Soos met enige voorspelling staan niks noodwendig vas nie. Moeder Natuur kan altyd die een of ander verrassing inhou om die grootte van die oes dramaties te verminder: Hetsy dit die een of ander groot koue front is wat baie vroeë rypskade veroorsaak, of een of ander plaag wat die mielie-opbrengs erg knou.
Verdere onbekende faktor
Die wisselkoers is ’n verdere onbekende faktor in ’n produsent se pak bemarkingskaarte. Roekelose politieke uitsprake en optredes kan die rand binne ure hopeloos laat verswak. ’n Verswakking van R1 teenoor die dollar kan ’n verhoging van amper R200 per ton vir mielies beteken.
Die teenoorgestelde kan ook gebeur. ’n Jaar gelede het ekonome, tegniese ontleders en ander kenners vol vertroue van ’n wisselkoers van R19 tot R22 vir ’n Amerikaanse dollar gepraat. Op dié stadium is die wisselkoers net bo R13.
Net soos die wisselkoers ons mielieprys beïnvloed, so beïnvloed die prys van mielies in Amerika ook ons prys in Suid Afrika. Dit is baie moeilik om te begroot vir katastrofes, maar dit is belangrik om te weet wanneer elke land se groot risikotyd is. Die groot risikotye bring onsekerheid in die mark en dié onsekerhede bring weer wisselvalligheid in die mark.
Prysbewegings in VSA
Die volgende risikotydperk in die VSA is gedurende hul plantseisoen in April en Mei. Die impak van Amerikaanse prysbewegings kan ons mielieprys vinnig laat verander. ’n Styging van net 10 Amerikaanse sent per skepel beteken dat pariteitspryse hier met meer as R50 per ton sal styg. ’n Styging van ’n halwe dollar per skepel kan amper R300 meer in ’n plaaslike produsent se sak sit.
Wat sal die uitwerking op die boerdery se winsgewendheid wees as pryse met R100 per ton styg en die helfte van die oes word met vastepryskontrakte verskans? Sal dit nie beter wees om vir ’n R200-styging te wag en dan 75% van die potensiële oes vas te maak nie? Is prysversekering in plaas van kontrakte nie nog beter nie?
Al hierdie verskillende scenario’s kan die besluitnemingsproses uiteindelik só kompliseer dat geen besluit geneem word nie. BVG se Graanbemarkingsprogram is die ideale hulpmiddel om die effek van verskillende tonnemate teen verskillende pryse te vergelyk en daardeur verskansingsbesluite makliker te maak.
Die Graanbemarkingsprogram kan by http://portal.bvg.net gevind word.
* Johann Strauss is ’n navorser by BVG Commodities.