
’n Aks minder mielies is vanjaar geplant, maar sojaboon-hektare skiet steeds die hoogte in, wys die Nasionale Oesskattingkomitee se voorlopige beraming van somergewas-aanplantings.
Nasionale sojaboon-aanplantings beloop vanjaar ’n geskatte 620 300 ha, wat amper ’n kwart meer as verlede seisoen se 502 900 ha is.
Dít kan die soveelste agtereenvolgende rekord-sojaboon-oes oplewer, en is in pas met die Proteïennavorsingstigting (PNS) se vooruitskouing dat die nasionale sojaboonproduksie in die volgende ses jaar meer as gaan verdubbel, en nasionale aanplantings teen 2020 sowat een miljoen ha behoort te haal.
Die PNS hoop dat die nasionale verhouding tussen die mielie- en soja-hektare teen 2020 70:30 gaan beloop. (In Amerika is dit reeds 50:50.)
Die nasionale mielie-hektare beloop vanjaar ’n geskatte 2,656 miljoen, wys die Oesskattingkomitee se raming. Dit is net ’n aks minder as verlede seisoen se 2,688 miljoen ha, waarvan die naasgrootste nasionale oes ooit afgehaal is, en kom te midde van lae pryse. Vanjaar se nasionale witmielie-aanplantings kan egter die kleinste in vier jaar wees, ’n geskatte 1,488 miljoen ha.
Sonneblomsaad-aanplantings is ook minder as verlede seisoen – ’n geskatte 561 000 ha, wat sowat 6% kleiner as verlede jaar se 598 950 ha is.
Sowat 6% meer grondbone as die vorige seisoen is egter aangeplant – ’n beraamde 55 200 ha.
Die komitee benadruk in sy verslag dat dié aanplanting-skattings bloot voorlopige beramings is, en hoofsaaklik gegrond is op ’n nie-ewekansige opname wat teen middel Januarie gedoen is, en op relatief swak deelname deur boere gegrond is.