
Verwag groot druk op mieliepryse vir ten minste die volgende agt maande, is die waarskuwing aan saaiboere ná die jongste oesskatting.
Die nasionale oesskatting vir mielies is vir die sewende agtereenvolgende maand verhoog – dié keer tot 14,3 miljoen ton. Dit is uitsluitlik weens 'n groter as verwagte geelmielie-oes wat in die jongste amptelike skatting met 290 200 ton teenoor die vorige van ‘n maand gelede verhoog is.
Graan SA waarsku in sy daaglikse markaanwyser dat dit die hoeveelheid geel mielies wat vir uitvoer beskikbaar is, met bykans 300 000 ton verhoog. Dit kan dus met redelike sekerheid aanvaar word dat die nasionale mielie-oordragvoorraad teen die einde van die heersende bemarkingsjaar op 30 April volgende jaar, groter as verwag gaan wees.
Die nasionale geelmielie-oes is nou 405 900 ton groter as die vorige jaar s'n. Die totale nasionale oes is teen gemiddeld 5,32 ton per ha – die hoogste opbrengs in die geskiedenis – van die lande gehaal.
Vanjaar se oes haal steeds nie die rekord-oes van 1981 toe 14,87 miljoen ton gelewer is nie, maar destyds was die opbrengs maar gemiddeld 3,31 ton per ha. Amper 4,5 miljoen ha was daardie jaar met mielies beplant, teenoor vanjaar se 2,7 miljoen ha.
Mnr. Wessel Lemmer, senior ekonoom by Graan SA, waarsku in sy markverslag dat pryse vir die res van die bemarkingsjaar (tot einde April) groot prysdruk kan ervaar. Terwyl alle oë tot dusver op die uitvoertempo gerig was, bring die groter as aanvanklik verwagte voorrade nou mee dat die wisselkoers en internasionale prysbewegings dalk eerder die groter deurslag op ons markte gaan begin gee. “Suid-Afrikaanse mieliepryse kan oor die langer termyn (eerder) die internasionale prysbewegings en die rand navolg,” lui die verslag.
Dit beteken 'n swakker rand mag van tyd tot tyd opwaartse stukrag aan die Safex-mieliepryse gee, maar as wêreldpryse verder sou daal (in pas met die neiging wat al etlike maande lank duur), behoort dit die Safex-pryse ook af te druk.