Die Regering moet vinnig optree om die situasie rondom die mieliepsurplus aan te spreek, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring sê dié party hy neem kennis van berigte dat die mieliesurplus vir die oes wat tans op die land is, moontlik tot ses miljoen ton aangepas kan word.
Mnr. David Ross, die party se woordvoerder vir energiesake, sê só ‘n styging sal duisende werksgeleenthede in gedrang bring en boere dwing om in die volgende seisoen minder te plant – wat weer eens werksgeleenthede ongunstig sal raak.
Ross meen die gebruik van surplusmielies vir bio-brandstof sal verskeie probleme kan oplos, en dat die Regering die proses vir die hersiening van die bio-brandstofbeleid vir mielies moet bespoedig. Hy is van plan om me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, te kontak met ‘n versoek vir vinnige stappe in die verband.
Debat oor bio-brandstof
Die party het reeds verlede jaar die debat oor bio-brandstof aangevuur. “Winsgewendheid en arbeidsintensiewe boerdery is baie belangrik vir ons landelike ekonomie, en dus is die Landbouministerie verplig om vinnig op te tree. Verder sal bio-brandstofproduksie Suid-Afrika help om sy doelwitte vir hernubare energie te bereik en nuwe werksgeleenthede te skep,” lui die verklaring.
Volgens mnr. Neels Ferreira, voorsitter van Graan SA, word tans slegs 33% van die land se mielie-oes vir menslike gebruik aangewend. Die res is voer en oorskot. “As jy nou na die prys kyk, is Suid-Afrika se prys R360 per ton onder die Amerikaanse prys. Én hulle kry nog subsidies van die staat af”.
Intussen sê Ferreira die Minister het reeds verlede jaar aangedui dat die gesprek oor die beleid heropen is. Hy vergader vandeesweek met die departement om dít en ander sake met hulle te bespreek. “As ons na die breër situasie kyk, is sowat 47% se koring en 800 ton sojaboon-oliekoek verlede jaar ingevoer. Geleenthede vir ontwikkeling bestaan, dis net ‘n ordentlike tariefbeskerming wat ontbreek”, verduidelik hy.
Ferreira sê Graan SA stem nie saam met die voorspelling mieliesurplus van ses miljoen ton nie. “Ons kan net werk op amptelike syfers, en niemand weet nog wat daardie syfers is nie want ons weet nog nie hoeveel gewasse geplant is en hoeveel reënskade byvoorbeeld aangerig is nie.”
12 Januarie 2011