Die Mielietrust ondersoek die gevolge van besoedeling deur myne in Mpumalanga, sê mnr. Louw Steytler, voorsitter van Graan SA.
Luidens ’n berig in Beeld is die ondersoek onderneem op versoek van die organisasie. Navorsing het reeds bewys dat selfs al rehabiliteer mynhuise die grond waar hulle voorheen steenkool gemyn het, die opbrengs van graangewasse swak is – gewoonlik net 25% van die normale opbrengs.
Dié navorsing is gedoen deur dr. Koos Pretorius, direkteur van die Federasie vir ’n Volhoubare Omgewing en ’n kersieboer van Belfast, en prof. Terence McCarthy, ’n kundige aan die Universiteit van die Witwatersrand.
Nasionale ramp
Mnr. Hennie Laas, hoofbestuurder van Mpumalanga Landbou, waarsku dat die besoedeling besig is om op ’n nasionale ramp af te stuur.
Mnr. Koot Claassen, voorsitter van die organisasie, is die jongste boer wat weens mynbedrywighede handdoek ingegooi het. Hy gaan nou glo met druiwe, skape en koring in die Wes-Kaap boer.
Steytler sê hulle is bekommerd oor die stand van sake in die provinsie, wat van die beste landbougrond in die land het. “As ons ’n funksionele gemeenskap in dié land wil hê, moet dié besoedeling aandag kry. Agri SA win ’n regsmening oor die situasie in.”
Pas aan
Intussen meen mnr. Bertie Truter, die koper van Claassen se grond, boere wat op die Hoëveld van Mpumalanga wil oorleef, moet leer om aan te pas. “ ’n Mens moet maar aanpas by die uitdagings.”
Luidens ’n berig op Nuus24.com het die Truter-boerdery Claassen se 4 600 ha gekoop, waar met onder meer mielies, sojabone, koring en hoenders geboer gaan word.
In die berig sê die TLU SA hy is ook bekommerd oor die besoedeling, want dit plaas die provinsie se watervoorsiening onder druk, met myne wat dieselfde riviere, spruite en ondergrondse waterbronne as boere gebruik.
Bronne: Beeld en Nuus24.com
22 Maart 2012