Die staat en die private sektor gaan R5 miljard oor die volgende vyf jaar beskikbaar stel vir belegging in landbouverwerking.
Mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, het net ná pres. Jacob Zuma se staatsrede aangekondig dat ’n databasis al opgestel is vir potensiële projekte in groenenergie, vervaardiging, afvalbestuur, ekotoerisme, die landbou en mynbou.
Volgens Patel gaan R1 000 miljard, ten minste R150 miljard meer as wat verlede jaar aangekondig is, oor die volgende vier jaar vir infrastruktuurontwikkeling begroot word. Die georganiseerde landbou het dié fokus op die sektor verwelkom en is daartoe verbind om met die Regering saam te werk, sê Patel.
Zuma het in sy derde staatsrede gewys hoe belangrik die landbousektor vir hom is. Hy het aangekondig dat infrastruktuur ontwikkel sal word wat dié sektor ’n hupstoot sal gee om onder meer werk te skep.
Die ondersteuningspakket sal saad, trekkers, opbergingsgeriewe (soos silo’s), landelike koöperasies en die uitkenning van toegang tot water insluit. Die pakket sal deur me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, gekoördineer word.
Lees meer in Landbouweekblad se uitgawe van 25 Februarie 2011.
21 Februarie 2011