
'n Belegging van R47 miljoen word deur Foodcorp beoog vir die Ouma-beskuitfabriek op die plaas waar Ouma Greyvensteyn oorspronklik met haar onderneming begin het.
Dié geld sal gebruik word om ’n nuwe fabriek van 8 000 m2 te bou. Foodcorp, ’n Suid-Afrikaanse voedselvervaardiger, sê dié belegging sal die grootste nóg wees wat in die Molteno-omgewing in die Oos-Kaap gemaak is.
Die nuwe fabriek vervang die geriewe wat tans gebruik word, maar amper 50 jaar oud is, berig Engineering News. ’n Ooreenkoms is tussen die Oos-Kaapse Regering, die plaaslike munisipaliteit Inkwanca, Eskom en Foodcorp aangegaan om die fabriek op te rig.
Bouwerk het twee maande gelede reeds begin en die nuwe fabriek sal na verwagting in Desember vanjaar voltooi wees en, volgens beplanning, in Maart aanstaande jaar met produksie begin.
Koekies
Die opgradering van die fabriek sal die onderneming se produksievermoë van 16 ton per dag tot 23 ton per dag verhoog. Terselfdertyd sal dit ’n derde produksielyn in die handelsmerk se produkte verteenwoordig. “Ons wil die Ouma-handelsmerk uitbrei om ook koekies in te sluit,” aldus mnr. Justin Williamson, hoof uitvoerende beampte.
Die maatskappy het aanvanklik oorweeg om die fabriek na sy produksie-aanleg in Randfontein, Gauteng, te verskuif, aangesien dit ’n jaarlikse besparing van R6 miljoen in vervoer en verwante koste sou beteken. Die fabriek het verlede jaar ook onder 91 kragonderbrekings gebuk gegaan.
Williamson sê met dié skuif sou baie van die 250 werkers wat tans by die fabriek werksaam is, sonder ’n inkomste gewees het. Die maatskappy het dus ’n morele besluit geneem om die fabriek op Molteno uit te brei, wat volgens beplanning tot meer werksgeleenthede sal lei.
Bron: Engineering News