
Chaos heers by die Tshwane-varsproduktemark, terwyl informele handelaars, vervalle geriewe en ’n afwesige onderhoudskedule boere dwing om ander bemarkingskanale vir hul produkte te oorweeg.
Mnr. Johan du Toit, markagent vir Subtropico by die mark, sê onwettige permitte is aan informele handelaars uitgereik om binne die markterrein handel te dryf. “Nadat die markbestuur gesien het watter nadelige uitwerking dit op die mark se verhandelings gehad het, is die informele handelaars bloot uit die terrein geskuif, waar hulle nou tot so ’n mate verder vars produkte verkoop dat dit vragmotors en motors se toegang na en van die mark verhinder.”
Hy sê die situasie duur nou al drie weke voort. Daar het dadels gekom van beloftes deur die munisipaliteit en markbestuur dat die Pretoriase metropolisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens die handelaars sal verwyder. “Ons raad is op met die markbestuur, want al ons versoeke val op dowe ore.”
Verdere verval
Landbouweekblad het in die verlede reeds berig oor die vervalle toestand van die mark se rypmaakkamers. Du Toit sê die toestand het verder verswak.
“Ek is nou al 30 jaar betrokke by die Tshwane-varsproduktemark. Dit het nog nooit so erg hier gegaan nie. As dit aangaan soos nou, is ek baie seker dat die varsproduktemark nie langer as nog vyf jaar sal kan bestaan nie. En dan is dit ’n plek waar daar met voedsel gewerk moet word. Ek is seker dat as die departement van gesondheid ’n ondersoek by die mark sou doen, sal dit vir ’n week of twee gesluit moet word weens die gesondheidsrisiko wat dit vir verbruikers inhou.”
Wat die verval van die mark nog meer kommerwekkend maak, sê Du Toit, is dat die mark eintlik die enigste ware bron van inkomste vir die munisipale owerheid is.
“Die verval van die rypmaakkamers alleen beteken dat die owerheid sowat R500 000 per maand aan rypmaaktariewe verloor. Dit is natuurlik afgesien van ander tariewe en inkomste wat die mark lewer, maar dit lyk asof die markbestuur hierdie verliese eenvoudig aflag. Daar sal ’n daadwerklike verandering moet kom, anders gaan Pretoria ’n waardevolle bate in die nabye toekoms verloor.”