Sloerdery met die toekenning van waterregte deur die Departement van Waterwese kos die landbou honderde miljoene, terwyl sommige boere daardeur gedwing word om onder vloedlyne te boer, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Mnr. Lourie Bosman, die party se woordvoerder vir die landbou, sê baie boere wat langs Suid-Afrika se riviere boer, word tans gedwing om hulle boerderye laer as 20, 30 of 50 jaar vloedlyne te bedryf omdat die departement óf sloer om waterregte hoër op toe te ken of weier om dit te doen.
Terselfdetyd veroorsaak die departement se sleepvoet-benadering dat die sektor onder opkomende boere reeds sowat R308 miljoen en 2 600 werksgeleenthede ingeboet het. Bosman sê hulle het 138 gevalle ondersoek waar opkomende boere aansoek gedoen het vir waterregte om aan hulle oorgedra te word. Slegs vier se regte is binne die voorgeskrewe tyd toegeken, en sowat 2 100 ha se regte is nie oorgedra nie.
Verskeie hofsake is tans hangende teen die departement in ‘n poging om hulle te dwing om waterregte toe te ken.
Vaardigheidstekort of moedswilligheid
Bosman sê waterregte skep ook probleme vir boere in die kommersiële sektor . “Ek weet nie of dit geskied weens ‘n tekort aan vaardigheid by die departement en of dit bloot moedswilligheid is nie.”
Volgens Bosman staar opkomende boere meestal verskeie uitdagings in die gesig, en omdat hulle kapitaal beperk is en hulle boerderye so sensitief vir veranderinge kan wees, kan hulle nie noodwendig wag vir ‘n volgende plantseisoen om toegang tot behoorlike waterbronne te hê nie. Die party versoek derhalwe me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, om in te gryp en die proses vir die oordrag van waterregte na opkomende boere te bespoedig.
Demper op ontwikkeling
‘n Bykomende opname dui aan dat die sloerdery ook ‘n demper plaas op die ontwikkeling van sowat 97 000 ha se besproeiingsgrond deur opkomende boere in sewe van Suid-Afrika se opvanggebiede, wat ook die sektor se inkomste beïnvloed.
Bosman sê hy het verskeie vrae in dié verband aan die Minister asook die Departement van Waterwese gestuur om duidelikheid oor die situasie te kry.
18 Februarie 2011