Drie staatsdepartement het R4,1 miljoen vermors om die Walmart-Massmart samesmelting teen te staan, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring het die Departemente van Ekonomiese Ontwikkeling, Landbou, Bosbou en Visserye en Handel en Nywerheid die samesmelting teengestaan en is dié koste gelykop tussen hulle verdeel.
Die departemente het teen die samesmelting appèl aangeteken, maar ‘n hof het bevind dat dié appèl aansoek “ongegrond” is. Mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, het dié syfer bekend gemaak in ‘n antwoord op ‘n vraag van die DA in die parlement.
Wil R16,5 miljard in SA belê
Walmart het aangedui dat sy belegging in die Suid-Afirkaanse mark sowat R16,5 miljard sal beloop, en dat hy beoog om sowat 15 000 werksgeleenthede te skep. Die groep is van plan om meer Massmart-kleinhandel afsetpunte op te rig.
Verder is die groep van plan om met behulp van sy vesting in Suid-Afrika na die res van Afrika uit te brei, wat aan plaaslike produsente die kans sal bied om hulle produkte ook ander Afrika markte beskikbaar te stel.
Die DA meen dat die betrokke ministers hulle eerder moet toespits op die welvaart van die land se mense en om werksgeleenthede te skep, in plaas daarvan om teen-produktief te wees deur internasionale belegging teen te staan.
11 April 2012