Altesaam R26,6 miljoen is deur die Tesourie bewillig om die uitbreking van bek-en-klouseer in KwaZulu-Natal hok te slaan.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het dié nuus verwelkom. In die maandelikse nuusblad in Landbouweekblad, het mnr. Gerhard Schutte, hoofbestuurder, dit beskryf as ’n stap in die regte rigting om Suid-Afrika weer in ’n posisie te plaas sodat hy kan aansoek doen om die herinstelling van sy status as ’n sone vry van bek-en-klouseer.
Luidens die Tesourie se verklaring oor sy mediumtermynbegroting, sal die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye besluit hoe die geld aangewend moet word. Volgens ’n woordvoerder van die departement is daar nog sake wat opgelos moet word voor ’n finale besluit oor die gebruik van die geld geneem sal word.
Suid-Afrika het sy status as sone vry van bek-en-klouseer by die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) verloor toe bevestigde gevalle van bek-en-klouseer in Februarie vanjaar in die noorde van KwaZulu-Natal voorgekom het.
1 Desember 201