Sowat R93,6 miljoen se salarisse is die afgelope twee jaar aan geskorsde staatsamptenare, wat beamptes van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming insluit, betaal, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ‘n verklaring sê die party dié bedrag beloop meer as R5,8 miljoen vir minister Gugile Nkwinti se departement. Die totale bedrag is glo baie hoër, want die party het glo net antwoorde van vyf staatsdepartemente oor ‘n vraag in die Parlement ontvang. Dié salarisse is sedert April 2009 tot op hede betaal.
In die 2009/’10 geldjaar is 192 beamptes met posvlakke van 11 of hoër met hulle volle salarisse geskors. Sedert dié tyd is ‘n verdere 173 beamptes van die dieselfde posvlakke geskors. “Dit kom neer op 365 beamptes wat gemiddeld ‘n jaarlikse salaris van R257 000 verdien,” aldus me. Ena van Schalkwyk, die DA se verteenwoordiger vir openbare diens en administrasie.
Ondersoeke na ongerymdhede
Die meeste van dié beamptes het dié salarisse verdien terwyl hulle gewag het dat ondersoeke na ongerymdhede voltooi word. Van Schalkwyk sê dit is nie tans duidelik hoeveel van die beamptes afgedank is nie, en opvolgvrae sal aan die departement gestel word.
Volgens Van Schalkwyk is dit regverdig dat daar nie teen beamptes opgetree word voordat hulle skuldig bevind word nie, maar “ons kan nie ‘n situasie hê waar geskorsde beamptes vir maande aaneen wag – met hulle volle salarisse – voor dissiplinêre stappe teen hulle geneem word nie.”
Die party meen dit is tyd dat die Regering moet ophou om hulle voete te sleep met die hantering van sulke sake.
23 September 2011