
Boere in die voormalige Transkei beoog om tot 400 ton aartappels vanjaar te oes as deel van ’n ontwikkelingsprogram waarvoor daar R3.3miljoen ’n jaar gelede deur die Oos-Kaapse Ontwikkelingskorporasie (OKOK) bewillig is. Op 20 April, by ’n boeredag van hierdie projek, waarby die OKOK, Aartappel Suid-Afrika (ASA) en die Kei Varsproduktemark (KVPM) op Mthatha betrokke is, is die eerste oes seisoen afgeskop.
Oor 26 hektaar word ’n gemiddelde opbrengs van ongeveer 1 500 10 kg-sakkies/ha op ’n droëland-produksiestelsel verwag. Die produksiekoste aan die belastingbetaler vir hierdie aartappels sal dus R8.46/kg, meer as dubbeld die heersende gemiddelde markprys vir aartappels, beloop. Nietemin is dit ’n geleentheid om die KVPM ’n broodnodige hupstoot te gee, meen mnr. Simphiwe Ntshweni van die OKOK.
Skep ’n mark
“Die Kei Varsproduktemark skep ’n baie belangrike mark vir hierdie produsente en hulle is dus noodwendig ’n belangrike vennoot in hierdie projek. Verder is Aartappels Suid-Afrika baie belangrik, nie net uit ’n produksie-oogpunt nie, maar ook om die boere hier mededingend te maak teen hulle kommersiële eweknieë.”
Die KVPM se mnr. Melinkqubo Ndabokutya is baie opgewonde oor die aartappelproduksie op die mark se voorstoep. “Aartappels is verreweg die grootste verkoper op die mark, maar word van ander streke af hierheen ingevoer. In ’n poging om plaaslike boere by te staan, het KVPM ’n boere-ondersteuning-eenheid op die been gebring wat meganisering aan die boere beskikbaar maak en ons het ook ’n was-, gradering- en verpakking-fasiliteit op ons perseel wat die boere kan gebruik.”
Die KVPM se omset het oor die afgelope twee jaar van meer as R26 miljoen in 2014/’15 tot ’n beoogde minder as R10 miljoen in die huidige finansiële jaar gekrimp. Die vernaamste kopers op die mark is kleinhandelaars en smouse. Die OKOK verwag dat minstens 250 ha in die komende seisoen in die OR Thambo-distrik aangegeplant sal word. ASA is die tegniese raadgewer by die projek, wat uit sewe verskillende koöperasies bestaan met altesaam 61 lede.