
Die broodnodige opleiding van skaapskeerders het 'n welkome hupstoot gekry met die oorhandiging van R14 miljoen van die Koega Ontwikkelingskorporasie aan BKB om die opleiding van 300 skaapskeerders te fasiliteer.
Die ooreenkoms is op die plaas Waterfall in die Adelaide-distrik tussen mnr. Zuko Mapoma, uitvoerende bestuurder van die KOK se korporatiewe dienste, en die voorsitter van BKB, mnr. Chris Louw, onderteken.
Die geld is afkomstig van die nasionale Regering se Werkersfonds. Volgens die ooreenkoms sal BKB verantwoordelik wees vir die opleiding van dié skeerders oor die volgende drie jaar. 'n Plaas buite Kroonstad is vir die doel aangekoop en skeerders sal vanaf Januarie volgende jaar daar opgelei word, nie net in skaapskeer nie maar skaaphantering, wolklassering, higiëne, veiligheid en gesondheid.
Mapoma het by die geleentheid gesê die KOK is trots om betrokke te wees by die opleiding van skaapskeerders en dat werkskepping baie belangrik is.
Volgens mnr. Isak Staats, hoofbestuurder: Wol en Bokhaar van die BKB, het 40 skeerders reeds gekwalifiseer en is hulle klaar besig om 'n verdere 140 op te lei.
Dit kos na raming R80 000 om een skeerder op te lei. Voorheen het skeerders van Lesotho die werk gedoen maar is die gebruik om die vaardigheid van pa na seun oor te dra, aan die kwyn.
“Dit is geweldige harde werk en werkers trek rond vir ses tot agt maande van die jaar. Dan is daar vier maande van die jaar geen werk nie, so dit is 'n uitdaging om die regte kandidate te lok,” sê Staats.