
Die oprig van heinings vir 971km in Limpopo teen 'n koste van R46 miljoen blyk net nog 'n voorbeeld te wees van hoe roekeloos regeringsdepartemente met belastingbetalersgeld omgaan.
Dié heinings is die afgelope vyf jaar vir vee- en wildsplase in die provinsie opgerig.
In ’n skriftelike vraag van die DA aan die Limpopo-wetgewer rakende die provinsiale departement van landbou se uitermatige besteding op heinings, het dit aan die lig gekom dat gemiddeld R47 000 per km betaal is vir die oprig van nie-geëlektrifiseerde heinings.
Dokumente wat die Departement van Landbou in Limpopo in die wetgewer voorgelê het, wys dat R1,3 miljoen betaal is vir die oprig van ’n nie-geëlektrifiseerde heining van 19 km met ’n hoogte van 1,4 meter. Dertig werkers het aan die heining by die Seleka-projek in Lephalale gewerk en dit het vyf maande geneem om te voltooi.
Korter heinings duurder
Die grootste bedrag wat op een projek bestee was om weidingsgebied te omhein, was by die Modimolle-rooivleisprojek waar R5,6 miljoen begroot is om ’n 4 km heining van 1,42 meter hoog op te rig. Dit beteken dit kos die belastingbetaler R1,48 miljoen per/km. Kontrakteurs in dié gebied reken dat die koste vir die heining ongeveer R26 000 per/km behoort te wees.
Volgens die departement is hierdie ’n veeljarige projek wat vanjaar voortduur. R2,8 miljoen is reeds in die 2016/’17 geldjaar bestee, met 32 werkers wat ingespan word. Maar vir die oprig van ’n heining van 8km by die Mogalakwena-Mapela-rooivleisprojek in Mookgopong, waar tot 105 werkers ingespan is vir dieselfde hoogte heining, is sowat die helfte minder - slegs R2,2 miljoen - bestee.
In albei gevalle het die werkers R92 per dag verdien. Vir die 13 km geellynheining van 1,4 meter hoog in Musina en Thulamela is R1,6 miljoen betaal.
Mnr. Jacques Smalle, die DA se woordvoerder vir landbou in die gebied en me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, het besoek afgelê by die rooivleisprojek in Modimolle.
Boorgat werk nie
Die drie nuwe boorgate wat by die duur omheinde Modimolle-rooivleisprojek opgerig is, is ook nie almal in werking nie, het Steyn gevind. Steyn is sedert verlede jaar al opsoek na boorgate wat departemente regoor die land opgerig het as hulpmiddel teen die droogte.
Die drie boorgate, waarvan twee nie werk nie, is elk teen ’n koste van R154 086 deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming opgerig uit fondse van die omvattende steunprogram vir die landbou (Casp).
Op 'n parlementêre vraag van Steyn het die departement aangedui dat geen diensverskaffers aangestel is vir die instandhouding van die boorgate nie. “Boorgate is aan die boere oorhandig nadat dit gekoppel was,” het mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming geantwoord.
Steyn sê siende dat die boorgat wat water aan die diere moet verskaf se as af is en daar nie ’n diensverskaffer is om dit reg te maak nie, sorg 'n buurman dat die beeste van die regeringsprojek elke dag water het.