
Die oesversekeringsbedryf in Suid-Afrika is nie tans volhoubaar nie en het vernuwing nodig.
Die poel van boere wat hul oeste verseker, is te klein, nuwe produkte is nodig, en die Regering moet, soos in baie ander lande, betrokke raak. Dit was die mening van kenners in dié bedryf by 'n simposium van die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Landbounavorsingsraad en die Land Bank.
Volgens mnr. Maniki Rakgalakane, besturende direkteur van die Land Bank se versekeringsarm, het slegs 2% van kleinskaalse boere toegang tot die versekeringsmark en kan net sowat 20% van kommersiële boere die buitensporig hoë premies bekostig.
Groot verliese
Rakgalakane het gesê in Suid-Afrika het die bedryf 'n verliesverhouding van 114% – vir elke R1 wat uitbetaal moet word, word 'n verlies van R14 gely.
Hy het voorbeelde genoem van hoe ander lande oesversekering volhoubaar maak:
* In Indië, Mexiko, Brasilië, Soedan en Marokko is boere verplig om hul oeste te verseker indien hulle krediet wil uitneem.
* In Amerika en Spanje kry slegs boere wat oesversekering uitgeneem het, ramphulp.
* In onder meer Rusland, Brasilië, Japan, Turkye, Chile, Spanje en Colombië subsidieer die regerings premies om die koste daarvan te verlaag en só meer boere te kry om versekering uit te neem.
* In Amerika, Spanje en Turkye word standaarde vir prysbepaling en dekkingsvlakke gestel.
In lande waar regerings hupl verleen
Volgens mnr. Lovemore Forichi van Swiss Re is die hoogste deelname aan oesversekering in dié lande waar regerings dit subsideer.
Die paneel was optimisties dat Suid-Afrika ook oplossings gaan vind, en gesprekke vind plaas tussen die SA Vereniging van Versekeraars (SAIA), die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, en Tesourie.
Pad is nog lank
Mnr. Andries Mahlase van Munich Reinsurance, ook voorsitter van SAIA se landboukomitee, het gesê “die pad is nog lank” maar dit is belangrik dat landbouversekering spesifiek genoem word in die landboudepartement se voorgestelde geïntegreerde ontwikkelingsbeleid.
Die insluiting van kleinboere by versekering het baie bespreking uitgelok. Mnr. Reinhard Kuschke, besturende direkteur van AgriSeker, het gesê dit sal nie werk om 'n produk vir kommersiële boere ook vir kleinboere te probeer gebruik nie. Boonop is die gehalte van data oor kleinskaalse boere se produksie swak. Suid-Afrika moet gaan kyk wat ander lande doen.