
Slegs 33% van die beweerde oortreders wat ná plaasmoorde in hegtenis geneem is, is skuldig, bevind die burgerregteorganisasie AfriForum in ’n verslag oor plaasmoorde van 2016 tot 2021.
“Dit is werklik skokkend en toon hoe die strafregstelsel slagoffers van plaasaanvalle in die steek laat,” sê mnr. Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie.
Die syfer is bekend gemaak op ’n mediakonferensie oor die verslag waarin inligting oor plaasaanvalle en plaasmoorde in dié ses jaar ontleed word. Die verslag bevat inligting oor 364 plaasmoorde, wat die getal is wat AfriForum kon verifieer.
In die verslag het AfriForum die inhegtenisneming van verdagtes en die skuldigbevinding van oortreders met behulp van ’n oopbron media-ontleding ondersoek en beoordeel. Só is bevind dat gemiddeld 47% van die aanvallers tydens plaasmoorde wat bekend is, in hegtenis geneem is, maar net 33% van die beweerde oortreders is skuldig bevind.
Die vlak van wreedheid wat met plaasmoorde gepaard gaan, het duidelik geblyk. Luidens die verslag toon navorsing dat daar nie ’n enkele jaar was waarin marteling nie tydens aanvalle plaasgevind het nie en dat gemiddeld 15% van plaasmoordslagoffers gemartel is.
Volgens mnr. Johan Nortjé, ’n navorser by AfriForum, is dit ’n uiters kommerwekkende neiging wat dringend aandag nodig het. Net in 2020 is 24% van die moordslagoffers gemartel. “Dit wys dat plaasaanvalle nie net ’n gewone misdaad is nie en voorrang moet geniet,” sê Nortjé.
Van die ander bevindings in die verslag is dat slagoffers gemiddeld 57 jaar oud was, die meeste moordslagoffers manlik was, en die meeste moordslagoffers waar die oorsaak van dood bekend is, geskiet is, naamlik 52%.
Roets het gesê AfriForum probeer om boere en hul gesinne meer weerbaar teen plaasaanvalle te maak en sal voortgaan om projekte, aksies en veldtogte aan te dryf om boere veiliger te maak en hulle te ondersteun waar moontlik.
Hou Landbou.com en Landbouweekblad dop vir nog oor die verslag.