
Genoeg ondersteuning in die landbou bestaan om ’n werkbare ontwikkelingsplan vir grondhervorming te ontwikkel, maar min tyd is oor om dié plan te ontwikkel en te implementeer.
Só sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA. Hy was lid van ’n paneel tydens Wildbedryf Suid-Afrika (WRSA) se grondvergadering by die Bona Bona Lodge naby Wolmaranstad.
“Dit gaan nie ’n gerieflike rit wees nie,” het De Jager tydens sy spreekbeurt gesê. Hy het benadruk dat, indien daar nie ‘n werkbare plan vir die landbou in die komende maande ontwikkel word nie, die huidige generasie boere in Suid-Afrika die heel laastes sal wees wat nog in vrede in die land sal boer.
“Een van die groot faktore wat hier ter sprake is, is ’n deursigtige beleid en daar sal ’n nuwe basis van vertroue vanaf die onderskeie rolspelers moet kom alvorens ons ’n goeie werkbare plan vir landbouhervorming sal kan kry,” het hy gesê.
Op 'n vraag of hy dink dat daar genoeg ondersteuning vanuit die georganiseerde landbou sal kom vir die Nasionale Ontwikkelingsplan, het De Jager gesê dat hy meen dat genoeg steun reeds onder meeste boere vir ‘n werkbare plan bestaan.
“Dit is nie net van Agri SA af wat die ondersteuning kom nie, maar ook van Afasa, en hoewel ek nie namens die TLU SA kan praat nie, glo ek dat daar genoeg momentum ook in dié organisasie is om te sê: ‘Ons benodig ‘n plan wat nie net werkbaar is nie, maar ook implementeerders om hierdie plan binne ‘n relatief kort tydperk tot stand te bring,’ ” het hy gesê.
“Die NOP bied hierdie fasette, maar meer nog, dit maak mense opgewonde, nie net vanaf regerings- en primêre landbou se kant af nie, maar ook verder in die waardeketting, waar banke en finansieringsinstansies die plan dophou en ook verder af in die waardeketting. Net verlede week het ek besef dat buitelandse beleggers ook hulle gewig agter ‘n werkbare plan sal ingooi,” het hy gesê.