Die Vleisbedryfsforum wag op terugvoer van die staat oor die nakoming van beloftes oor sy hantering van dieregesondheid voor die forum oor die verdere hantering van die kwessie sal besluit, sê mnr. Dave Ford, voorsitter.
Die tekort aan staatsveeartse was een van die belangrikste punte op die sakelys by ’n werksessie tussen die bedryf en die Departement van Landbou se direktoraat vir dieregesondheid.
Die kwessie is op die spits gedryf toe die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) daarop gewys het dat 37% van staatsveeartsposte vakant is, asook 15% van die administratiewe poste in die veeartsenydiens en 26% van dié diens se grensbeheerposte.
Die SA Veterinêre Vereniging (SAVV) het reeds etlike jare gelede sy kommer oor die tekort aan staatsveeartse uitgespreek. Daar is geraam dat 140 poste landwyd nie gevul is nie en dat inspekteurs van die Europese Unie al in 2003 gedreig het om uitvoer uit Suid-Afrika na die EU te beëindig oor die land se hantering van dieregesondheid.
Hulp aangebied
Die vereniging het verskeie kere hulp van sy lede in veral die platteland aangebied om diestaat by te staan, maar daar het nog niks van gekom nie.
Die Departement van Landbou se direktoraat dieregesondheid wou nie sê hoeveel poste vir staatsveeartse landwyd vakant is nie. Volgens die departement se afdeling vir menslike hulpbronne is sewe van die 48 staatsveeartsposte by die nasionale departement vakant. Dit sluit nie poste op direkteursvlak in nie.
Die departement van landbou in Limpopo het in antwoord op navrae gesê uit 29 poste vir staatsveeartse in die provinsie is 22 gevul. Die departement het reeds 31 veearts-studente aan die enigste twee universiteite vir veeartsenykunde in Afrika laat oplei – 11 aan die Universiteit van Pretoria en 20 studeer aan die Universiteitvan Nairobi in Kenia.
In die Wes-Kaap word ook heelwat aandag gegee aan die bevordering van ’n loopbaan in veeartsenydienste. Ander provinsies het nie op navrae gereageer nie.
21 Februarie 2012