
Kundiges sê mnr. Pravin Gordon, Minister van Finansies, se 2011-begrotingsrede het nie baie verrassings ingehou nie, hoewel hulle meen dat meer aandag aan die landbou geskenk is as in vroeëre begrotingsredes.
‘n Paneel kundiges het Woensdag (23 Februarie) na die lewering van die begrotingsrede aan ‘n besprekingsgeleentheid in Centurion deelgeneem. Vir meer inligting oor die begrotingsrede en die sektore wat die landbou spesifiek raak, klik gerus hier.
Stygende voedselpryse
Mnr. Jannie de Villers, nuwe uitvoerende hoof van Graan SA, sê die begroting het weereens ontbreek ten opsigte van detail oor fondsverdeling.
“Ek hou egter van die feit dat minister Gordhan erkenning gegee het aan stygende voedselpryse. Hy het daarna verwys in dieselfde afdeling as gesondheidsorg en arbeidskwessies – iets waarna verbruikers luister. Dít sal hopelik help dat vingers nie na produsente gewys sal word nie.”
De Villiers vind dit wel interessant dat Gordhan ‘n bykomende R39, 4 miljard aan salarisse vir die openbare sektor afgestaan het, terwyl byvoorbeeld pensioenarisse se toelaag slegs met 5,8% verhoog is.
Hy sê hopelik sal die landbou ook voordeel trek uit die R10,3 miljard wat Gordhan vir vervoerinfrastruktuur beskikbaar gestel het.
“Duiwel in die detail”
Intussen sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK), hulle is positief oor die begroting, hoewel dit voorspelbaar was. “Soos ek altyd sê, die duiwel is in die detail, so dit gaan afhang van hoé die begroting geïmplementeer word of dit suksesvol sal wees.”
Purchase is ook bekommerd oor die fondse wat vir salarisse in die openbare sektor beskikbaar gestel is. “Die Regering moenie hier probeer werk skep nie, hulle moet eerder ‘n omgewing daarstel waarbinne die privaatsektor nog werksgeleenthede kan skep.”
Hy meen die land se groeikoers is te laag, en dat beter groei die ekonomie en werkskepping sal bevoordeel. Volgens Purchase is die minister se fokus op korrupsie en die feit dat dit in alle sektore uitgeroei moet word, verblydend, en stem hulle ten volle daarmee saam.
Balans
Dr. Andre Jooste, senior bestuurder van mark- en ekonomiese navorsing by die Nasionale Landboubemarkingsraad (NLBR), meen die begrotingsrede “het die regte knoppies gedruk, maar die uitdaging gaan wees om die regte balans in dié begroting te kry”.
Hy sê die dokument bevat volgens hom “te stil” ten opsigte van infrastruktuurontwikkeling in landelike gebiede. Jooste meen vir die begroting om te slaag moet die land meer instansies kry wat beleide en opdragte effektief kan uitvoer.
Hy sê beter balans is ook nodig ten opsigte van die hoeveelheid mense wat belasting betaal en dié wat van maatskaplike toelae afhanklik is, andersins gaan die land groot probleme binne die volgende 10 jaar ondervind.
Klimaatsverandering
Gordhan se fokus op klimaatverandering en die groen ekonomie is vir Jooste verblydend, hoewel hy sê: “Die koste vir klimaatverandering vir die landbou moenie hoër wees as dit wat daaruit gemaak word nie.”
Gordhan het R800 miljoen opsy gesit vir groen ekonomie-inisiatiewe vir die volgende drie jaar, en R2,2 miljard is beskikbaar gestel vir omgewingsgerigte werkskepping oor die medium termyn. Bykomende fondse sal ook aan me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, beskikbaar gestel word vir die 17de llimaatsveranderingskongres wat in Desember 2011 in Durban plaasvind.
24 Februarie 2011