Dit lyk asof die meeste landbou-ondernemings nie deur die kode vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou (AgriSEB) geraak sal word nie.
Die plafon vir voldoening daaraan is op omsette van bó R5 miljoen per jaar geplaas. Volgens die sensusopname van 2007 is net 7% van die boerderye in die land se omset meer as R5 miljoen.
Die kodes is verlede week in die Staatskoerant bekend gemaak. Mnr. Langa Zita, direkteur-generaal van Landbou, het gesê die spesifieke mikpunte vir die sektor is deur die sektor self bepaal. Dit is daarop gemik om volle transformasie van die landbou te bewerkstellig.
Goeie vordering
Die faktore spesifiek op die landbou gemik, sluit in (maar is nie beperk tot) grondeienaarskap, vlakke van ongeletterdheid, die landbou-omgewing en die rol wat die sektor in landelike ontwikkelingsprogramme kan speel.
Talle landbou-ondernemings het reeds ver gevorder met die inwerkingstelling van hul breëbasis swart ekonomiese bemagtiging (BBSEB) en transformasieprogramme.
“Landbou-ondernemings het hul BBSEB-strategieë ingestel op die generiese kodes vir goeie praktyke. Die veranderinge kan ’n impak hê op hul vordering om hul doelwitte te bereik,” sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer.
4 April 2012