
Minder brande is in Julie vanjaar aangemeld as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, sê tot dusver die winter het 10 000 ha in die provinsie afgebrand. In Julie verlede jaar was dié syfer 110 000 ha.
Die afgelope naweek het sowat 20 brande wat deur weerlig veroorsaak is. Procter sê die brande het nie groot skade aangerig nie en hy is nie bewus van enige veeverliese wat voorgekom het nie.
Hy sê hulle vermoed die natter toestande in sekere dele van die provinsie het die afname tot gevolg gehad, maar hy sê dit wil voorkom of mense meer bedag is daarop om brande te voorkom. Drie brande, waarvan die oorsprong onseker is, het wel daartoe gelei dat 3 000 ha naby Dewetsdorp in die slag gebly het.
Vullishope
Verskeie van verlede jaar se brande het by munisipale vullishope ontstaan. Procter sê hulle het baie streng teenoor die munisipaliteite opgetree. “Dit is opmerklik dat nog geen brande wat by vullishope ontstaan het, vanjaar voorgekom het nie.”
“Ons verwag dat die voorkoms van brande by taxi-staanplekke en kruisings in die komende weke kan toeneem,” aldus Procter. Dié brande is gewoonlik ’n gevolg van mense wat op vervoer wag en wat vure langs die pad maak om warm te bly, wat dan tot wegholveldbrande kan lei.
Sowat 257 000 ha het verlede jaar weens brande in die provinsie in die slag gebly.