Dele van die Oos-Vrystaat het vermoedelik die mielieplanttyd verpas met sowat 75% van aanplantings wat gerealiseer het, aldus Graan SA.
Mnr. Jannie de Villiers, hoof-uitvoerende beampte, sê talle boere kon nie hul mielie- en ook sojaboon-aanplantings binne die optimum planttyd in die streek in die grond kry nie.
Mnr. Chris Helm, ‘n lid van Graan SA en boer van Reitz, sê slegs tussen 75% en 80% van die beplande aanplantings is geplant. Die Oos-Vrystaat se optimum planttyd is tussen 15 Oktober en 15 November elke jaar. “Die droogte het groot probleme veroorsaak in ons planttyd. Die reën wat geval het, het net binne dié tydperk geval, maar vir sommige boere was dit reeds te laat.”
Plante is wisselvallig
Helm sê wat die aanplantings op die landerye betref lyk toestande tans nie baie gunstig nie. “Die mielieplante is baie wisselvallig, selfs in dieselfde ry. Dit is ‘n gevolg van die feit dat die grond dalk nie orals nat was waar geplant is nie. En die hitte en son wat ons tans beleef, laat die plante swaar trek.”
De Villiers sê intussen is hulle optimisties oor die aanplantings in die res van die oostelike dele asook die westelike dele. In die westelike dele is die optimum planttyd tussen 15 November en 15 Desember elke jaar.
Volgens De Villiers het goeie reën binne dié tyd in die westelike streke geval, wat die boere in staat gestel het om binne die optimum planttyd te plant. “Hier en daar moes van die boere ophou plant vir ‘n dag of twee omdat die grond te nat was,” vertel De Villiers.
Die organisasie is optimisties oor die komende oes, en De Villiers sê: “In die stadium lyk sake nie sleg nie.”
20 Desember 2011