
Na skatting is 500 nuwe trekkers in Mei vanjaar van die hand gesit teenoor die 550 eenhede wat in Mei verlede jaar (2013) nuwe base gekry het.
Dr. Jim Rankin, uitvoerende hoof van Agfacts, sê dit verteenwoordig ‘n daling in verkope van 9% in die Meimaand-verkope oor die afgelope 12 maande.
“Kyk ‘n mens na die die totale verkope oor die afgelope twaalf maande tot die einde van Mei vanjaar is 7 363 nuwe trekkers van die hand gesit. Dit is 5% minder is as die 7 767 nuwe trekkers wat in die twaalf maande tot die einde van Mei 2013 verkoop is,” sê Rankin.
Hierdie geskatte verkoopsyfers moet gesien word in die lig van die feit dat Suid-Afrika tans sy grootste mielie-oes sedert 1981 insamel terwyl mieliepryse die afgelope drie maande aansienlik gedaal het.
Die oes van somergewasse is met ‘n paar weke vertraag. Die prysstygings van landboumasjinerie en -toerusting as gevolg van die swak rand beïnvloed die mark nou. Intussen lyk die vooruitsigte vir ander somer- en wintergewasse goed.
“In hierdie stadium lyk dit asof die totale verkope van nuwe trekkers vir die kalenderjaar tussen 5% en 10% laer sal wees as vir 2013,” sê Rankin.