
Verkope vir die tien maande van die jaar tot dusver is 3% laer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, sê die SA Landboumasjinerie-assosiasie. Stroperverkope van 35 eenhede is twee eenhede meer as die 33 eenhede wat verlede jaar in Oktober verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou ongeveer 4% laer vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.
Sentiment in die mark is steeds versigtig optimisties. In sekere gebiede het reën geval en boere kon in daardie dele begin plant. Reën het egter kol-kol geval in gebiede waar daar wel reën geval het en die somergewasgebiede wag nog op goeie algemene reën.
Korttermynvooruitsigte vir die verkoop van toerusting sal baie afhang van goeie reënval in die volgende paar weke, want goeie reën sal beteken dat boere in al die somergewasgebiede kan begin plant. Ramings in die bedryf is dat verkope in 2014 ongeveer 5% laer sal wees as verkope verlede jaar.