
Die kleinhandelverkope van vars melk en roomkaas in die twaalf maande tot 30 Junie vanjaar was betekenisvol laer as dieselfde tyd verlede jaar.
Só sê die SA Melkverwerkersorganisasie (Sampro) in sy kwartaallikse verslag oor markaanduiders vir die suiwelbedryf.
Die minder vars melk wat verkoop is, is egter oorskadu deur groei in die verkope van langlewemelk. Die beraamde gesamentlike verkope van albei soort melk was 1,18% hoër as in dieselfde tydperk die vorige jaar.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, hoof uitvoerende beampte van Sampro, sê van die produkte waarvan meer verkoop is, se pryse het met minder as die inflasiekoers gestyg. Verbruikers is ernstig onder druk, soos wat laer verkope van produkte soos brood, rys, koffie, tee en margarien wys.
'n Verbetering in die situasie moet volgens hom nie in die volgende maande verwag word nie, omdat ekonomiese groei na verwagting minstens die res van die jaar swak gaan bly.
Internasionale suiwelpryse het die laaste paar maande gedaal en Kraamwinkel sê dit kan in die nabye toekoms tot hoër invoer en laer uitvoer lei.
As die weersomstandighede in belangrike suiwellande die res van vanjaar normaal is en daar nie 'n onverwagte verbetering in die vraag is nie, kan dit pryse van produkte en onverwerkte melk verder afdruk.
Rusland se boikot van produkte van belangrike suiweluitvoerlande sal hiertoe bydra, asook 'n moontlike hoër aanbod uit die Europese Unie wanneer produksiekwotas per land verval, en moontlike voortgesette hoë produksie van melk.