
Die maandelikse minimum loon verhoog van R2 420,41 tot R2 606,78, die weeklikse loon van R558,60 tot R601,61 en die uurlikse loon van R12,41 tot R13,37. Volgens me. Elize van der Westhuizen, senior bestuurder van arbeidsverhoudinge by Agri SA, is die verhoging gebaseer op ’n formule wat in 2013 deur die Minister van Arbeid aangekondig is.
Vanjaar se aanpassing is die laaste jaar van ’n driejaarsiklus. “Boere pas gewoonlik hul werkers se vergoeding jaarliks aan. Die aanpassing in die minimum loon is in pas met markbewegings en sou waarskynlik in boere se begrotings opgeneem gewees het,” het sy aan Landbouweekblad gesê.
Die Regering ondersoek egter tans ’n nasionale minimum loon as een van die meganismes om ongelykheid in inkomste te verminder. Die landbousektor werk al die afgelope 11 jaar met ’n sektorale vasstelling. Die vakverbond Cosatu het onlangs gevra vir ’n minimum loon van tussen R4 500 en R6 000 per maand.