
Mnr. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, sê sy departement wil die agterstande met aansoeke vir watergebruiksregte teen einde Junie vanjaar uitgewis het.
Mchunu het Vrydag met die begin van ’n twee dag lange beraad oor waterkwessies in Midrand gesê die departement het ’n proses ontwikkel, maar is ontvanklik raad en menings deur afgevaardigdes by die beraad sodat hy nie meer mense sal frustreer wat aansoeke indien nie.
Die grootste agterstand is volgens Mchunu in die Wes-Kaap.
Die departement wil sy amptenare wat met aansoeke werk, oplei sodat dit hoogs bekwame amptenare sal wees wat die verwerking doen. Die departement wil ook aansoekers oplei oor wat alles nodig is vir ’n aansoek, sodat aansoeke nie heen en weer gestuur hoef te word nie.
Mchunu het verwys na pres. Cyril Ramaphosa se belofte in sy staatsrede dat aansoeke binne 90 dae afgehandel sal word en gesê dit ís moontlik en is nie net ’n droom nie.
Transformasie van regte
Die minister het voorts gesê dat ’n program van transformasie nodig is rakende die toekenning van waterregte op ’n billike manier en dat ’n nuwe bedeling nodig is.
In dié opsig sal sy departement nou saamwerk met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. “Dit is ’n ernstige kwessie waaraan ons moet aandag gee en ons is daartoe verbind.”
Landbou se kommer
Mchunu het spesifiek aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat ook die beraad bygewoon het, gesê die landbou het sekere punte van kommer.
Dit handel nie net oor waterregte, lisensies en billikheid nie, maar die sektor voel in sommige gevalle ’n bietjie bedreig oor die beskikbaarheid van water. Mchunu het verwys na kanale wat eens gebruik is, maar nou aandag nodig het.
Die landbou, opkomende boere ingesluit, verskaf voedsel vir die land en moenie bedreiging en twyfel ervaar nie, het hy gesê.
Kapasiteit in regering
Mchunu het onlangs alle provinsies besoek en het gesê byna alle burgemeesters het gekla oor hul waterbegrotings en kapasiteit van amptenare. Die min amptenare wat daar is, het nie die regte kwalifikasies nie.
In die nasionale departement is ’n proses om die regte kapasiteit te hê, volgens hom in volle gang. ’n Heeltydse direkteur-generaal, dr. Sean Phillips, wat ’n gekwalifiseerde ingenieur is, is aangestel en ander senior poste is ook gevul.