
’n Finale verslag oor besprekings rakende die groenskrif op grondhervorming moet aan die einde van die maand aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, gelewer word.
Me. Annelize Crosby, parlementêre verteenwoordiger vir Agri SA, sê die minister wil glo in Oktober ’n verslag aan die Kabinet kan voorlê.
Op KwaNalu se jaarlikse kongres het Crosby opgemerk dat sy nie verwag dat ’n gekonsolideerde witskrif opgestel sal word nie. Die verslag moet saamgestel word gegrond op die samesprekings wat binne die NAREG-taakgroep plaasgevind het. Die taakgroep is deur Nkwinti aangewys is om die groenskrif te bespreek.
Grondwet
Crosby sê sy verwag nie dat die staat die Grondwet sal verander om grond te vat sonder dat ’n grondeienaar vergoed word nie. “Dit gaan bitter, bitter moeilik wees,” sê Crosby. Die Grondwet sal verander moet word en daarby is dit in stryd met die internasionale neigings.
Volgens Crosby is een van die belangrikste faktore rakende grondhervorming dat die bedryf nie net sy skouers moet optrek omdat die eerste model daarvoor misluk het nie. “Dit is belangrik dat ons moet vordering maak met modelle vir volhoubare grondhervorming. Ons kan nie bloot terugsit en sê dit het misluk nie.”