
Dit raak ál belangriker dat die landbou sy uitdagings tegemoet loop deur dit te identifiseer en evalueer en dan pro-aktief oplossings te vind, het mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, op die jaarkongres van die Namibiese Landbou-unie in Windhoek gesê.
Op ekonomiese gebied het boere byvoorbeeld met beleidsonsekerheid te doen, onder meer oor ramphulp om die primêre landbou by te staan. “Suid-Afrika en Namibië tel onder die beste lande in Afrika wat voedselsekerheid betref.
“Die SA Regering gee egter nie die nodige aandag daaraan wanneer boere hulp nodig het in tye van droogte nie. Die landbou is gereeld aan natuurrampe onderhewig. Beleggers sien dit raak dat die Regering die boere nie bystaan nie en dit kan ‘n uitwerking op beleggingsbesluite hê,” het Möller gesê.
Wanneer Regering wanpresteer
Agri SA is nie krities teenoor die Regering nie, maar is wel krities wanneer hulle wanpresteer en wanneer korrupsie en wanbestuur voorkom. Dit is opbouende kritiek.
‘n Nuwe, alternatiewe, nasionale ekonomiese beleid is nodig. Ongelykheid is byvoorbeeld ‘n probleem as in aanmerking geneem word hoe baie mense in die uiterste armoede leef. Dit behoort deel van ‘n alternatiewe ekonomiese beleid te wees.
Die Parlement moet uit tegnokrate bestaan sodat elke minister ‘n deskundige op sy of haar gebied is, soos ‘n minister van landbou wat ‘n doktorsgraad in die landbou het sodat ingeligte besluite geneem kan word, het Möller gesê.