
“In die laaste tyd sien ons ministers wat deur ’n hele vergadering sit en nie halfpad deur die vergadering uit loop nie. Hulle luister. Hulle weet hulle moet verstaan,” het hy by Absa AgriBesigheid se jaarlikse landbouvooruitskouing gesê.
Volgens hom is daar nou ekonomiese eerder as ideologiese realiteite wat die Regering dryf. Dit beteken nie die pad vorentoe gaan maklik wees nie, want die Regering moet sy kiesers tevrede hou. Janovsky het gesê hy verwag van ’n regering om ’n beleidsomgewing daar te stel wat beleggings lok, onder meer deur sekerheid oor grond, en verder om bloot sy werk te doen, soos om rioolwerke in stand te hou.
Mnr. Brienne van der Walt, hoof van Barclays Africa AgriBesigheid, het gesê hy hoop die Regering sal die nodige insig hê om die gedagte van grondplafonne te laat vaar, omdat dit vir die private sektor onwerkbaar is. “Ons moet landbou haalbaar transformeer.”
In die vooruitskouing is vanjaar spesifiek aandag gegee aan geleenthede in Afrika. Van der Walt het gesê voordat ’n mens in Afrika betrokke raak of belê, moet jy genoeg kennis inwin. Dit is onder meer belangrik om die ekonomiese groei van ’n land te ontleed en te kyk of die ekonomie gediversifiseer is.
Die uitvoer van olie is byvoorbeeld verantwoordelik vir 97,5% van Angola se uitvoerinkomste. Verder korreleer Afrika se groei die laaste 10 tot 12 jaar met China s’n omdat China hulpbronne uit Afrika gebruik. China wil egter wegbeweeg van ’n vervaardigingsgedrewe ekonomie na een wat meer verbruiker- en dienstegegrond is.
Van der Walt het gesê hoewel Afrika waarskynlik die beste landboupotensiaal het rakende bewerkbare grond en water, gaan die groot geleenthede verlore gaan as ander elemente, soos gediversifiseerde ekonomieë en progressiewe beleidsraamwerke, nie in plek is nie.