Drie staatsdepartemente, insluitend Landbou, Bosbou en Visserye, het hul stemme teen die Walmart-ooreenkoms verhef.
Luidens ’n berig op Fin24.com het die Departemente van Landbou, Bosbou enVisserye, Ekonomiese Ontwikkeling en Handel en Nywerheid Woensdag (5 Oktober 2011) hul argumente teen die Walmart-Massmart-samesmelting by die Mededingings-appèlhof ingegee.
Me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê dié transaksie kan lei tot die ondergang van plaaslike verskaffers met gevolglike werksverliese.
Sy sê die transaksie het reeds tot slegte nuus vir sekere olyfboere gelei.
“Olyfboere in sekere dele van die land het kennis gekry dat hulle nie meer bestellings van Makro (’n afdeling van Massmart) vir plaaslik vervaardigde olyfolie moet verwag nie, aangesien hulle beoog om goedkoper produkte in te voer. As dié transaksie nie behoorlik nagegaan word nie, kan dit katastrofiese gevolge vir plaaslike boere en landbouverwerkers inhou.”
Tribunaal
Die drie departemente beveel aan dat die transaksie na die Mededingingstribunaal terugverwys word sodat dit behoorlik oorweeg kan word en doelmatige voorwaardes gestel word.
Verder is hulle bekommerd oor ’n “potensiële verwoestende” uitwerking wat die transaksie op plaaslike werksgeleenthede sal hê.
Die meeste kommer ontstaan omdat Massmart vorentoe toenemend kan staatmaak op Walmart se wye internasionale verskaffersnetwerk, aldus die Departement van Ekonomiese Ontwikkeling.
Mnr. Rob Davies, die Minister van Handel en Nywerheid, sê die Tribunaal het nie in ag geneem watter enorme uitwerking so ’n samesmelting op die land se ekonomie gaan hê nie. Verder sê hy daar is geen bewyse dat Massmart 15 000 werksgeleenthede uit die samesmelting kan skep, soos wat geadverteer is nie.
5 Oktober 2011