Heelwat ministers ondergrawe steeds die Parlement deur nie betyds parlementêre vrae te beantwoord nie.
Die DA het bevind dat van die 596 vrae wat hy in die eerste parlementêre termyn ingedien het, slegs 203 binne die vasgestelde tyd van tien dae beantwoord is.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, is as een van die groot sondaars uitgewys. Hy het nie een van die ses vrae beantwoord wat aan hom gestel is nie.
Ander ministers wat net so traag is om vrae te beantwoord, is me. Bathabile Dlamini, Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, wat slegs een van 88 vrae beantwoord het en mnr. Fikile Mbalula, Minister van Sport en Ontspanning, wat nie een van sy 12 vrae beantwoord het nie.
Die uitgesproke me. Tina Joemat- Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het nie veel beter gevaar nie. Sy het slegs ses van die 19 vrae beantwoord wat aan haar gestel is.
Binne tien werksdae
Die reëls van die Nasionale Vergadering is dat ministers die vrae binne tien werksdae moet beantwoord vandat dit in die Parlement se interne vraelys gepubliseer is.
Mnr. Watty Watson, die DA se hoofsweep, het gesê die dringendheid waarmee vrae beantwoord word en die gehalte van die antwoorde is ’n belangrike toets van die ministers se respek vir die Parlement se oorsigrol.
Hy sê op ’n vergadering in Januarie met me. Lindiwe Mazibuku, die DA se parlementêre leier, het adj.pres. Kgalema Motlanthe gesê dat stappe gedoen word om die verhouding tussen die uitvoerende gesag en die Parlement te verbeter.
Só word onbeantwoorde vrae op elke kabinetsvergadering ter tafel gelê sodat die ministers kan verduidelik waarom hulle dit nie beantwoord het nie.
Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, en me. Edna Molewa, Minister van Water en Omgewingsake, is van die fluksste ministers. Hulle het onderskeidelik 19 van 22 vrae en 54 van 69 vrae beantwoord.
13 April 2012