
“Die toename in misdaad is ontstellend,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van Vryheidsfront Plus, in ’n verklaring kort ná die bekendmaking van die lank verwagte statistieke. “Die jongste polisiestatistieke skets in die algemeen ’n donker prentjie oor misdaad wat duidelik besig is om buite beheer te raak.”
Die DA het vinger gewys na Cele wat “keer op keer” gewys het hy is nie geskik vir sy posisie as minister van polisie nie.
Die DA beskryf die jongste misdaadsyfers as gruwelik en sê dit vlek “die bloedbad van geweld reg oor gemeenskappe in Suid-Afrika” oop.
“Suid-Afrikaners leef permanent in vrees; hulle is bang hulle gaan deel wees van die volgende misdaadstatistieke,” lui dié party se verklaring.
Volgens die nuutste misdaadstatistieke was daar 12 plaasmoorde in die eerste kwartaal teenoor 11 plaasmoorde in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Tog meen Groenewald dié statistieke, wat slegs die aantal plaasmoorde insluit, skets nie ’n volledige prentjie oor die algemene situasie rondom landelike veiligheid nie.
Nié akkurate weerspieëling
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, sê hoewel die syfer vir veediefstal op die oog af beduidend lyk, is dit nié ’n akkurate weerspie?ling van misdaad op plase nie.
“Boere het ál minder vertroue in die polisie en daarom is die aanmeldingsyfer van voorvalle – soos veediefstal – ook heelwat minder. Ons as ’n forum kan daarom nie heeltemal pyl trek op die statistieke nie.”
Volgens die aanmeldingsyfers wat wel ontvang is, was daar die afgelope jaar ’n afname in veediefstal in die Oos-Kaap, maar ’n toename in die Vrystaat, sê Clack.
Mnr. Kobus Visser, direkteur van landelike veiligheid en provinsiale sake van Agri SA, sê die syfers toon dat boere ’n ernstige veiligheidsbedreiging beleef. Dit sluit onder meer misdade met betrekking tot infrastruktuur en die steel van landbouprodukte en vee in.
“Dié misdaadstatistieke weerspie?l nie die misdade wat die landboubedryf teister nie. Die veiligheid van die boeregemeenskap is nie net ’n boere-aangeleentheid nie, maar dit moet ook van nasionale belang wees omdat die landbousektor verantwoordelik is vir kos op Suid-Afrika se tafels en dit dra by tot nasionale stabiliteit.”
Volgens Visser toon ’n studie wat in 2018 uitgevoer is, dat alle boere oor die wêreld heen al onder misdaad deurgeloop het. Dit is egter net in Suid-Afrika waar boere aan plaasaanvalle en -moorde blootgestel word.
“ ’n Moord is ’n misdaad wat verpligtend is om by die polisie aan te meld, maar nie ander plaasmisdade nie. Boere het hul vertroue in die polisie verloor en voel as ’n misdaad wel ondersoek word, sal die saak nie sterk genoeg wees vir vervolging nie.”
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê Suid-Afrika bloei en dit lyk asof die regering en die polisie nie die vermo? het om dit te beheer of stop te sit nie. “Die syfers hou aan styg; dit is duidelik die regering faal ons almal.”