
Volgens die nuutste syfers het moord, seksuele geweld en aanranding toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. “Die eerste drie maande van die jaar was gewelddadig, wreed en onveilig vir verskeie Suid-Afrikaners,” het Cele gesê.
Volgens hom het armoede, ongelykheid en werkloosheid bygedra tot ’n toename in opportunistiese misdaad. “Die polisie het daarin geslaag om toe te slaan op misdaadsindikate betrokke by afpersing, ontvoering, transito-rooftogte en dwelmhandel. Ongelukkig het die polisie se pogings nie die verwagte resultate tot gevolg gehad nie.”
Misdade teen vroue, spesifiek moord, poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, het volgens hom skerp toegeneem. Moord en aanranding van kinders jonger as 17 het gedaal, terwyl die aantal gevalle van poging tot moord met 6,8% gestyg het.
Die moordsyfer het met 22,2% gestyg en 1 107 meer mense is gedurende die eerste maande van die jaar vermoor teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Van die 6 083 mense wat vanjaar vermoor is, was 898 vroue en 306 kinders jonger as 17. Dit is veral kommerwekkend dat die moord van kinders met 37,2% toegeneem het.
Hy het gesê rusies, vigilantisme, wraak, vergelding en rooftogte het tot die toename in moorde bygedra. Die meeste mense – altesame 2 268 – is in openbare plekke vermoor. Dit is gevolg deur 1 350 mense wat by die slagoffer se huis of die huis van die misdadiger vermoor is. Drankwinkels en openbare vervoer is die plekke waar onderskeidelik die derde en vierde meeste mense vermoor is.
Kontakmisdade gedurende die tydperk het met 15% toegeneem.
Seksuele misdade het met 13,7% toegeneem. Gedurende die eerste drie maande van die jaar is 10 818 mense in Suid-Afrika verkrag. Byna die helfte van die voorvalle het by die slagoffer of die misdadiger se huis plaasgevind.
Die meeste verkragtings in die tydperk is by Lusikisiki-polisiekantoor in die Oos-Kaap, Inanda-polisiekantoor in KwaZulu-Natal en Delft-polisiekantoor in die Wes-Kaap aangemeld.
Cele sê alle eiendomverwante misdade het met 0,1% toegeneem, terwyl rooftogte by nie-residensiële persele met 6,4% afgeneem het. Volgens hom het veediefstal met 2,5% toegeneem.
Aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 6 575 gevalle toegeneem en altesame 42 992 voorvalle van aanranding om ernstig te beseer – 1 937 daarvan op kinders jonger as 17 – en 45 746 gevalle van algemene aanranding is by die polisie aangemeld. Volgens Cele het rusies, padwoede, inmenging in ’n bakleiery en roof die meeste van dié voorvalle veroorsaak.
Gedurende die tydperk is 3 306 ontvoerings aangemeld. Dit is ’n toename van 1 700 teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Die meeste ontvoerings is by die Kempton Park- en Heidelberg-polisiekantoor in Gauteng en Delmas-polisiekantoor in Mpumalanga aangemeld. Meer as 1 000 ontvoerings is in Gauteng aangemeld.
Wat het fout gegaan?
Cele het gesê hy het die polisie se bestuur in al nege provinsies gevra wat skeefgeloop het, maar dat geen antwoord die skokkende misdaadsyfers kan regverdig nie. Verskeie veranderinge sal gemaak moet word om die gewenste resultate te kry.
“Een ding is seker, die polisie kan nie alleen die geveg teen misdaad wen nie. Ons benodig dieper vennootskappe met gemeenskappe wat gebou word op vertroue, verbintenis en dienslewering. Daarom sal hierdie ministerie aanhou om die polisie en sy bestuur te steun om die tekort aan vertroue in sommige gemeenskappe te herstel.”
Hy het gesê verbeterde dienslewering sal sorg dat dié vertroue herstel word. Meganismes vir verantwoordbaarheid moet by polisiekantore ingestel word. Daarom is onmiddelike ingrypings toegepas om onder meer polisiekantore te monitor.
“Terwyl daar duisende polisiebeamptes is wat hardwerkend en toegewyd is en hul eie lewe daagliks in gevaar stel, is daar ook beamptes wat hul gemeenskappe in die steek laat. Hierdie mislukking begin dikwels by polisiekantore.”
Volgens hom sal hierdie benadering beteken dat stasiebevelvoerders elke twee weke planne om misdaad te voorkom evalueer en toepas. Senior amptenare van die nasionale departement van polisie sal na die 30 polisiekantore met die meeste misdaad gestuur word om as rentmeesters op te tree.
Wat korrupsie betref, het Cele gesê dit is tyd dat die polisie sy huis in orde kry. “Die polisie kan nie ’n skuilplek vir misdadigers vermom as beamptes wees nie. Sulke gedrag vernietig die vertroue tussen die polisie en gemeenskappe.”
Hy het gesê die grootste klagte wat die polisie se dienslewering betref, is dat die polisie te stadig reageer. “Baie gemeenskapslede moet veels te gereeld hoor dat daar nie ’n polisievoertuig beskikbaar is om hulle te help nie. Die voertuie is gewoonlik buite aksie of wag vir onderhoud of herstelwerk. Om die impak hiervan te versag, word die proses waarvolgens die polisie se voertuie herstel word, hersien.”