
Lt.-genl. Lebeoana Tsumane, die Vrystaatse polisiekommissaris, voer vandag (Donderdag, 10 Augustus) samesprekings met grensboere in die omgewing van Clocolan wat die afgelope tyd onder oorgrensmisdaad uit Lesotho deurloop.
Die doel van die vergadering wat deur Tsumane belê is, is om eerstehands van die 19 grensboere by Clocolan se probleme te verneem en om oplossings te bespreek. ’n Afvaardiging van Vrystaat Landbou (VL) sal ook oor ’n week, ná sy provinsiale kongres vandeesweek, die grensgebied besoek.
Die voortslepende frustrasie oor onvoldoende grensbeveiliging tussen die Vrystaat en Lesotho en ’n vreespsigose onder gemeenskappe weens toenemende oorgrens-aanvalle op plase is van die faktore wat landelike veiligheid in die Vrystaat bedreig. Die Lesotho-grenssituasie is ’n dreigende kruitvat, veral ná die jongste plaasaanval in die distrik Clocolan.
Brandstigting en roof
Mnr. Hennie Swanepoel van die plaas Kanada, wat sowat 1 km van die grens af woon, sê almal langs die grens is tans paraat en enige verdagte optrede word as ernstig beskou. Vyf plaasaanvalle het sedert die begin van die jaar in die Clocolan-distrik langs die grens tussen Lesotho en Suid-Afrika vooorgekom.
In die mees onlangse voorval het ’n groep van ses mans die Lesotho-grens by die Caledonrivier op 1 Augustus oorgesteek en vir hulself kos in die huis van mnr. Johan Botha en sy vrou, Lientjie, tydens hulle plundertog, gemaak. Die groep het op Botha se plaas, Bolitho, toegeslaan onder die voorwendsel dat hulle melk wou koop.
Botha se werkers is met pistole aangehou en saam met twee huiswerkers vasgebind. Botha was glo besig om te stroop en het mielies dorp toe aangery. Die rowers het later hul buit met ’n trekker en wa tot by die Caledonrivier vervoer. Hulle het die veld aan die brand gesteek voordat hulle in Lesotho in gevlug het, waar ’n voertuig aan die oorkant van die rivier gewag het. Die plaasopstal is sowat 600 m van die rivier af.
Vrees heers
Mnr. Deonne Roux, die koördineerder van landelike veiligheid in die distrik Clocolan, sê die aanvalle het ’n negatiewe sielkundige uitwerking op die gebied se inwoners. “Kan jy jou indink wat slagoffers ervaar wanneer hulle vasgebind is en hulle aan die eise van rowers moet toegee op soek na geld en wapens?” vra hy. “En kan jy jou indink wat ouers ervaar as die aanvallers begin om die poniesterte van hulle dogtertjie met ’n mes afsny?”
Die dringendste versoek van grensboere is dat die patrolliepad aan die Vrystaatse kant van die grens herstel word om behoorlike patrollies deur die diensdoenende weermageenheid moontlik te maak.