
Pryse vir weidingsgrond word egter in sekere gebiede deur die risiko van veediefstal afgedwing. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is dat dit duur kos om grond in die Oos-Vrystaat te huur, behalwe as dit weidingsgrond naby die Lesotho-grens is. Die groter risiko vir veediefstal hier is een van die faktore wat pryse laer dwing.
’n Ander faktor wat vir laer pryse sorg, is die drakrag in die omgewing. Die prys van weiding word baie deur die weidingskapasiteit van die grond beïnvloed. Om weiding in die Clarens-omgewing te huur, kos R200/ha/jaar tot R250/ha/jaar, wat baie minder is as die Oos-Vrystaatse gemiddeld van R450/ha/jaar tot R600/ha/jaar.
Droëlandpryse is nóg hoër. Die pryse vir droë land in die Bethlehem-Reitz-gebied wissel van R800/ha/jaar tot R900/ha/jaar en pryse van so hoog as R1 200/ha/jaar word vir grond van hoë gehalte betaal. Die pryse wissel na gelang van die liggingsverskil tussen plase asook wat die grondsamestelling is.
Kenners reken die prys van huurgrond in die Oos-Vrystaat het saam met plaaspryse gestyg. As dit so is, het huurpryse in die omgewing die afgelope tien jaar met 400% gestyg.
Die redes vir die styging in veral huurgrondpryse is die groot vraag daarna. Pryse styg ook omdat daar die afgelope tyd goeie oeste in die omgewing was. Verhuurders voel hulle wil nie “uitmis” nie, gevolglik verhoog hulle elke jaar die huurprys.
Weens sowel die hoë huur- en kooppryse in die omgewing is dit vir jong boere of beginnerboere baie moeilik om tot die landboubedryf toe te tree. In Amerika het die Iowa-universiteit ’n studie gedoen om te bepaal wie plaasgrond koop.
Hulle het gevind 70% van alle plaasgrond wat gekoop is, is deur reeds gevestigde boere gekoop, terwyl 3% deur beginnerboere gekoop is. As ’n mens mooi gaan nadink, kan hierdie statistiek ook in die Suid-Afrikaanse konteks van toepassing wees.
- FRANCOIS HUMAN, departement landbou-ekonomie, Vrystaatse Universiteit. humanwf@ufs.ac.za.