
Verlede jaar was Suid-Afrika
onder vlak 1 en vlak 2 van die nasionale inperking weens die covid-19-pandemie.
Die totale aantal seksuele misdade soos verkragting en seksuele aanranding het met meer as 800 gevalle afgeneem. Vanaf April tot Junie is 9 516 gevalle van verkragting aangemeld, 500 minder as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Voorvalle het egter in die Noordwes en Noord-Kaap toegeneem.
Cele sê as gevolg hiervan is misdade van geslagsgebaseerde geweld vir die polisie ’n prioriteit. Vanaf April tot Junie is meer as 286 mense skuldig bevind en 46 is lewenslange vonnisse opgelê. Die verhore van 16 oortreders wat in altesame 65 seksuele misdade betrokke was, is afgehandel.
Volgens Cele het aanranding met 7% gedaal en was daar 2 205 minder sake van kontakmisdade vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Te danke aan meer optrede deur die polisie, onder meer voertuigbeheerpunte, is meer vuurwapens en dwelms volgens hom gekonfiskeer, beskuldigdes in voorvalle van huishoudelike geweld en dronkbestuurders in hegtenis geneem.
Cele sê terwyl die moordsyfers vanaf April tot Junie toegeneem het en 664 meer mense hul lewe verloor het vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar, het plaasmoorde volgens die nuutste statistieke gedurende die periode afgeneem. Poging tot moord het met 8,4% toegeneem.
Die meeste moorde is by die uMlazi- en Plessislaer-polisiekantoor in KwaZulu-Natal en die uMthatha-polisiekantoor in die Oos-Kaap aangemeld, gesamentlik 221 sake.
Gedurende die periode is 18 polisiebeamptes vermoor, 13 minder as gedurende die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Van die 6 424 mense wat vanaf April tot Junie vermoor is, is 2 766 doodgeskiet: 912 in KwaZulu-Natal, 697 in Pretoria en 498 in die Wes-Kaap.
Cele sê die polisie ondersoek tans 284 dossiere van veelvoudige moorde met 664 slagoffers. Die meeste van dié sake is in KwaZulu-Natal aangemeld, gevolg deur Gauteng en die Oos-Kaap. Volgens hom is meer verdagtes in hegtenis geneem.
Gevaarlike tyd vir vroue, kinders
Die tydperk was weer ’n gevaarlike tyd vir vroue en kinders met 855 vroue en 243 kinders wat landwyd vermoor is. Meer as 11 000 sake van geslagsgebaseerde geweld is deur vroue by die polisie aangemeld. Kinders is in 1 670 van dié sake betrokke. Cele sê die polisie ondersoek tans klagte van poging tot moord vir meer as 1 400 vroue en kinders.
Volgens hom is dit kommerwekkend dat 19 kinders by leerinstellings vermoor is, onder meer dagsorgsentrums en skole.
Die nuutste statistieke dui aan dat roof met verswarende omstandighede vanaf April tot Junie met 4% toegeneem het, terwyl veediefstal met 4,5% gedaal het. Transitorooftogte en die kaping van vragmotors het met onderskeidelik 30,4% en 23,6% toegeneem. Motorkapings het met 14% toegeneem.