
Dié Japanse voertuigvervaardiger, wat plaaslik dalk meer bekend is vir sy Triton- en Pajero-reekse, het die SNV-wêreld behoorlik aan die gons oor sy nuwe sportnuts-konsepmodel wat by die internasionale voertuigskou in Parys (Frankryk) vertoon word. (Foto hieronder.)
Mitsubishi sê sy Ground Tourer Plug-in Hybrid Electric Vehicle Concept (GT-PHEV) is die volgende groot stap in sy ontwikkeling van toekomstige SNV’e. Hierdie jongste konsep volg onder meer op die vervaardiger se XR-PHEV wat in 2013 by Tokio se voertuigskou vertoon is, en die XR-PHEV II wat besoekers aan die Geneefse voertuigskou in 2015 gaande gehad het.
Die GT-PHEV Concept is ‘n reusagtige sprong in die gebruik en toepassing van hibriede-tegnologie vir vierwielaandrywing. Die konsepvoertuig spog met ‘n lang lys tegniese vernuwings waarvan die splinternuwe inprop-hibriedaandryfstelsel waarskynlik die indrukwekkendste is. Hierdie stelsel gebruik ‘n klein binnebrandenjin en drie elektriese motors om al vier wiele aan te dryf. Die dryfstelsel het ‘n teoretiese reikafstand van 120 km met elektriese aandrywing en, lees ’n bietjie mooi, ‘n allemintige 1 200 km indien al die hibriede stelsels ook ingespan word!
Die binnebrandenjin en een van die elektriese motors is aan die voorkant van die voertuig gemonteer terwyl die ander twee elektriese motors op die agteras gemonteer is waar elkeen een van die agterwiele aandryf. Hierdie uitleg bied die voertuig ware 4X4-aandrywing.
Die GT-PHEV Concept gebruik hierdie enjin/motoruitleg en die Super All Wheel Control-tegnologie (S-AWC) vir aktiewe aandrywing deur al vier wiele wat naatloos tussen verskillende dryfmodusse wissel na gelang van die bestuur se vereistres en padtoestande.
Die GT-PHEV Concept is nie bloot ‘n vertoonvoertuig vir die vervaardiger se moderne aandryftegnologie nie, maar dit bied ook ‘n blik op die ontwerpkoers wat vir die toekoms gaan geld.