
"Suid-Afrika kan nie soos Zimbabwe wees nie. Boere hoef nie bang te wees vir grondhervorming nie. Ons het steeds die Grondwet."
Dít was mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se versekering aan boere en rolspelers wat Graan SA se jaarkongres op Nampopark buite Bothaville bywoon.
Mlengana het in 'n passievolle toespraak gesê die Regering en boere het dieselfde visie, waardes en doelwitte. "Ons wil almal hê boere moet genoeg kos produseer vir ons land se mense en dat die landboubedryf as geheel suksesvol moet wees."
Boere het – as Suid-Afrikaners – 'n groot bydrae om te maak tot die ontwikkeling en evolusie van landbou, sê Mlengana.
Skep suksesvolle waardketting
Die plaaslike landbou moet hom beywer om 'n suksesvolle waardeketting te skep. Hy waarsku egter dat 'n gebrek aan integrasie die bedryf knou. "Dit begin met my en jou wat mekaar vertrou."
In die toekoms sal die fokus op gesonde vennootskappe tussen kommersiële en opkomende swart boere wees. "Dié vennootskappe moet gesonde opbrengste lewer met opkomende én kommersiële boere as gelyke vennote."
Mlengana het die mislukking van sommige grondhervormingsprojekte betreur en gesê dié projekte is 'n verleentheid. "Ons moet iets aan dié situasie doen. Ons kan sukkelende projekte omdraai deur kommersiële boere te identifiseer wat saam kan help om die plase weer na produktiwiteit om te draai."
Sterk sakeplanne
Boere wat Regeringshulp vra, sal 'n sterk sakeplan moet hê wat spreek tot die Regering se doelwitte. Meetbare uitkomste sal gestel word vir hoe sukses lyk in terme van beleggingsprojekte vir opkomende boere.
"Ons wil seker maak dat geld slegs gaan na mense wat aan spesifieke vereistes voldoen." Die fokus van sulke projekte sal val daarop om bates winsgewend te bestuur.
Die slegte persepsies rondom boere en die landbou moet ook aangespreek word. "Ons moet stories vertel van boere wat beleggings maak en hulle omgewings transformeer. Geen rede bestaan vir boere om 'n gebrek aan vertroue in hulle toekoms as landbouers te hê nie."
Transformasie is 'n móét en die sleutel tot sukses vir die bedryf. Mlengana het 'n beroep op kommersiële boere gedoen om opkomende swart boere in hulle besighede in te neem.