
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Langeberg-gebied het 'n skenking van Cape Lime ontvang vir ’n mobiele gesondheidskliniek van R500 000.
Die mobiele kliniek sal 'n reuse-verskil maak vir die toeganklikheid van gesondheidsdienste aan plaaswerkers wat in die gebied buite Robertson, wat aan die Cape Lime-fabriek grens, woon en werk.
Mobiele dienste lewer sowat 98% van die gesondheidsdienste aan plaaswerkers wat heeltemal van hierdie dienste afhanklik is vir die lewering van voorkomende en chroniese behandeling.
Mnr. Theuns Botha, Wes-Kaapse minister van gesondheid, het gesê een van die redes vir die suksesverhaal waar gesondheidsdienste nader aan mense gebring word, is dat die private sektor na vore tree en aansienlike bydraes lewer, soos wat Cape Lime nou gedoen het. “Dit gaan egter ook oor die rimpeleffek wat die mobiele kliniek op die lewe van die gemeenskap in die Robertson-omgewing het. Dit het 'n invloed op die welsyn van die groter gemeenskap.”
Die Wes-Kaapse regering in die Kaapse Wynland-distrik beskik oor 38 mobiele klinieke wat dienste aan plaaswerkers lewer.
Die Burger het voorheen oor 'n soortgelyke gesondheidsinisiatief vir Wes-Kaapse skole berig.
Byskrif: Die sleutel word oorhandig. Van links is mnre. Helmut Pool van Cape Lime, Theuns Botha, die Wes-Kaapse minister van gesondheid, dr. Lizette Phillips, direkteur van gesondheidsdienste in die Wynland-distrik, en suster Salmien Visser en verpleegster Ansie Louw. Foto: Verskaf. (Klik net op foto om te vergroot.)