
'n Nuwe aanleg van Molatek se voerfabriek op Malalane is amptelik in gebruik geneem as deel van 'n projek van R118 miljoen wat in verskillende fases uitgevoer word.
Dit is heel gepas dat die nuwe aanleg Umbono gedoop is, want dit beteken visie, wat aansluit by die lekmaatskappy se visie om oor vyf jaar 368 000 ton veevoer per jaar te vervaardig.
Verkope vir die 2013/’14-finansiële jaar het 300 000 ton beloop, het mnr. John du Plessis, hoof- uitvoerende beampte van TSB Suiker, waaraan Molatek behoort, tydens die seremonie gesê toe die aanleg amptelik geopen is. Hulle bou tans ook 'n aanleg vir die vervaardiging van vloeibare dierevoeding, soos melasse, op Pongola.
'n Nuwe maatskappylogo is tydens die seremonie onthul. Dit lyk basies soos die ou kenteken, met die verskil dat lynsketse van 'n bees en skaap bokant die naam ingevoeg is.
Byskrif: Tydens die opening van Molatek se nuwe Umbono-aanleg op Malalane met 'n sak lek is van links mnre. Peter Deacon en Hennie van der Merwe, onderskeidelik fabriekbestuurder en produksiebestuurder van die lekmaatskappy, en Johan du Plessis, hoof uitvoerende beampte van TSB Suiker, aan wie Molatek behoort. (Foto: Charl van Rooyen)
Klik op die foto om dit te vergroot.