
Luidens ’n berig in Die Burger stamp twee boere kop sedert 98 Boerbokke van mnr. Philip Kemp, ’n boer van De Dam, op 17 Mei vanjaar onder twee grensdrade deurgekruip het na die groener weiding aan die ander kant.
Die bokke het lustig gevreet, maar oordaad het sy tol geëis en nege van die bokke het begin opblaas en het gevrek. Mnr. Jan Brink van die plaas Morester het ’n veearts, die DBV en munisipale wetstoepassingsowerhede ontbied.
“Ek het Kemp gebel en gewag en gewag terwyl ek by die oorblywende bokke gewaak het, maar dit was al skemer toe hy anderhalf uur later opdaag,” aldus Brink.
Olie
Volgens Kemp was hy egter binne 15 minute op die toneel met ’n olie wat die bokke uit hulle ellende sou verlos. “Brink het my sy grond summier verbied. Drie van my bokke was toe al vrek en nog ses het ná my vertrek gevrek.
"Ek het onmiddellik R3 100 aan die DBV betaal, maar kon steeds nie my diere terugkry nie, want Brink wou ’n kwitansie sien. Die DBV-agent moes toe op my koste Oudtshoorn toe en terug ry om ’n kwitansie te loop haal, wat eintlik niks met Brink te make het nie.”
Kemp sê hy het ná ’n groot gesukkel en lang wag uiteindelik sy bokke teruggekry. Hy was ook in die sop omdat een van sy werkers van die dooie bokke se vleis aan een van Brink se werkers wou verkoop het.
Kemp het toestemming gegee dat die werkers die bokke vir hul vleis kon slag, want bokke wat weens oorvreet gevrek het, hou nie ’n gesondheidsrisiko in nie. Die wetstoepasser het egter geen stappe gedoen nie omdat hy gevind dat geen saak bestaan nie.
Bron: Die Burger